GEORGE NUUS - Dit was die moeilikste tussenverkiesing waarin sy betrokke was sedert sy 10 jaar gelede by politiek betrokke geraak het, het Rozain Hansen, die DA-veldtogbestuurder vir die tussenverkiesing, in wyk 20, Borcherds gesê.
In 'n openhartige onderhoud het Hansen meer vertel van die DA se verkiesingsveldtog en die spanningsvolle oomblikke wat die party beleef het terwyl stemme laat verlede Woensdagaand getel is.
Volgens haar het DA-lede die aand gehoor daar is aanduidings dat die DA een van die stempunte by Youth for Christ Kid Stop gaan verloor. “As veldtogbestuurder, het ek begin vrae vra.” Die DA het nog nooit voorheen by die stempunt verloor nie. “Ons het begin bekommerd raak.”
Nieteenstaande 'n taai verkiesingstryd, het die DA optimisties gebly dat hy gaan wen.
Toe die uitslag aangekondig is dat die DA gewen het, was dit 'n groot verligting. "Ons het geglo ons sal wen, maar nie naelskraap (met 8 stemme) nie. Die DA se verkiesingsveldtog het aangedui dat dit nie naelskraap sal wees nie."
Die DA se verkiesingsveldtog het reeds kort na die algemene verkiesing op 8 Mei begin. Daar was aanduidings soos byvoorbeeld dat dit moeilik was om mense te motiveer om weer te gaan stem. Sy het gesê dit was van die begin van die veldtog duidelik dat dit 'n stryd tussen die DA en Good is.
Tydens die veldtog was daar ook baie persoonlike aanvalle op die DA-kandidaat Regina Windwaai. In 'n stadium het Windwaai selfs regstappe geneem teen een van die aktiviste van 'n party.
In die DA se stemwerwing het van die kiesers vir die party gesê dat die vorige raadslid niks vir hulle gedoen het nie. "Hulle wou weet waarom moet hulle weer vir die DA stem."
Op stemdag was die DA goed voorbereid en na bewering was daar selfs pogings om kiesers te verhoed om te gaan stem.
Volgens Windwaai het die DA vir haar tydens die veldtog gesê om kalm te bly en nie te reageer op persoonlike aanvalle nie.
Mercia Draghoender, Good-kandidaat, het gesê sy is 'n Good-lid en bly ook aan as 'n SAC-stadsraadslid. In die stadium gaan sy nie kommentaar lewer oor die tussenverkiesing nie.
Shaun August, Good se nasionale organiseerder en parlementslid, het gesê die party gaan nie in die stadium kommentaar lewer oor die uitslag as sodanig nie. Hy het bygevoeg: "Ons hou ons opsies oop."
Volgens hom was dit 'n baie intense veldtog en stemdag was ook intens.
Good het 'n veldtog gehad wat vyf weke geduur het. "Dit het gewys dat Good se stelsels en die ervaring van individue werk.
"Ons is trots op wat ons in die tussenverkiesing bereik het. Hou in gedagte dat ons 'n party is wat net agt maande bestaan en net agt stemme gekort het om te wen. Ons glo ons gaan bou op die steun wat ons gekry het."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'