GEORGE NUUS - Verteenwoordigers van politieke partye berei hulle daarop voor dat wanneer kiesers aanstaande jaar in die munisipale verkiesing hul kruisies gaan trek, Covid-19 steeds 'n realiteit gaan wees en nuwe logistieke uitdagings gaan stel.
Hoewel 'n datum nog nie bepaal is nie, kry dit aandag in hul beplanning. Vandag (11 November) se tussenverkiesings in die streek word as 'n proeflopie gesien.
Dit kom teen die agtergrond van 'n voorlegging oor die jongste Covid-19-situasie wat Vrydag, 30 Oktober, tydens 'n stadsraadsvergadering van die Garden Route-distriksmunisipaliteit deur Gerhard Otto, hoof van rampbestuur, gemaak is.
Otto het Maandag aan George Herald gesê die hou en aanbied van die munisipale verkiesing het onlangs tydens 'n vergadering van rampbestuur ter sprake gekom en is deel van pro-aktiewe beplanning.
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê die situasie kry beslis aandag. Daar is 10 tussenverkiesings in die oosstreek en dis 'n goeie aanloop op 'n kleiner skaal vir die veiligheidstappe. "Daar is 'n nuwe normaal vir ons gesondheid en hoe ons met mekaar omgaan."
Dieselfde beginsels word toegepas ten opsigte van die veiligheidstappe van die party se aktiviste, sy openbare verteenwoordigers en die publiek.
Piet van der Hoven, hoofsweep van die ANC, het gesê Covid-19 is 'n groot bedreiging. "Ons kan dit nie wegwens nie. Daar is nou 'n nuwe manier om die verkiesing aan te durf." Die protokolle word reeds gevolg. Die ANC sal byvoorbeeld nie toelaat dat vergaderings gehou word met groot samedrommings van mense nie."
Gert van Niekerk van die VF Plus het bevestig dat die party ook reeds aanpassings maak. Niemand mag 'n vergadering sonder 'n masker bywoon nie en stoele is 1,5 m uitmekaar. Dit sal in die aanloop tot die munisipale verkiesing ook so wees.
"Gesondheid word vooropgestel bo enige politieke party."'
Virgill Gericke van die PBI het gesê Covid-19 gaan vir 'n lang tyd 'n realiteit wees. "Veldwerkers word reeds verplig om al die protokolle na te kom. Dit sal in die toekoms ook so wees. Die pandemie is te ernstig om te ignoreer."
Johan du Toit van die ACDP het gesê die party eerbiedig die landswette. Hoe opgetree gaan word, sal afhang of daar nog aanstaande jaar inperkings gaan wees. Daar sal seker gemaak word dat mense veilig is.
With municipal elections due to be held next year, various political parties have confirmed that they are preparing to do it within Covid-19 safety precautions. At a meeting of the Garden Route District Municipality (GRDM) on Friday 30 October, Disaster Management chief Gerhard Otto said the virus is ongoing and will be present for some time.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'