Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die DA het verlede Vrydag verras met die bekendstelling van hul kandidaat vir Parkdene (wyk 8), Bazil Petrus, vir die komende tussenverkiesing op 11 November.
Tussenverkiesings in altesaam vier wyke vind op dieselfde dag plaas. Die DA se kandidate vir die ander drie wyke is as volg: Brendon Adams (wyk 17, Conville), Braam America (wyk 27, Pacaltsdorp) en past. Melvin Roelfse (wyk 14, Rosedale en 'n gedeelte van Pacaltsdorp).
Petrus is 'n bekende politikus in George wat deur die jare by verskillende politieke partye betrokke was. Hy was onder meer George-burgemeester (2004-2008) onder 'n DA-beheerde raad en meer onlangs, die leier van die politieke party Sac, met tans een setel in die George-raad.
DA-kiesafdelingshoof, Geordin Hill-Lewis, en die party se streeksekretaris en Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers, het beide met lof oor Petrus tydens die bekendstelling gepraat. Hulle het hul volle vertroue in sy vermoëns verwoord en hom by sy "blou-familie" verwelkom.
Petrus het gesê hy wil graag 'n brugbouer wees, om brûe te bou wat 'n geleentheid van hoop vir die nageslag bied. "Ek is baie lief vir my dorp. Ek is hier om my volle bydrae aan die party te gee," het hy gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Sac
Petrus en Hill-Lewis het bevestig dat 'n aansoek vir die deregistrasie van Sac by die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) ingedien is. Provinsiale woordvoerder van die OVK, Courtney Sampson, het op sy beurt bevestig dat die deregistrasie voltrek is.
Die volgende stap is om die munisipale bestuurder, Trevor Botha, in kennis te stel. Dit word glo deur beide die OVK en die leier van die betrokke party gedoen. Botha het Dinsdagmiddag bevestig dat hy nog nie skriftelik in kennis gestel is nie, en dat hy 'n versoek aan die OVK gerig het in die verband.
Botha sal op sy beurt die nuus aan die party se raadslid oordra. Sampson het bevestig dat die deregistrasie van 'n party beteken dat 'n dienende raadslid van die party hul pos verloor.
Tans dien Mercia Draghoender as Sac-raadslid op die George-raad. Sy het by navraag bevestig dat sy nog nie deur Botha in kennis gestel is nie. "Ek sal graag kommentaar lewer sodra ek deur die MM ingelig is," het sy Dinsdagmiddag gesê.
Die besluit om Sac te deregistreer was 'n besluit van die hele bestuur van die party, het Petrus gesê. "Ons kon nie meer ons mandaat onder die huidige omstandighede uitvoer nie. Ons het 'n verteenwoordiger in die George-stadsraad gehad [Mercia Draghoender] en sy het nie die mandaat van die party en die kiesers uitgeleef nie."
Volgens Petrus gaan daar 'n horde partye registreer vir die tussenverkiesing en aanstaande jaar se plaaslike verkiesing. "Ons gaan 'n beter bydra vir die gemeenskappe kan maak binne die DA," het hy gesê.
"Ons glo daarin dat ons die dorp en die land moet laat werk. Daarom sien ek my rol as brugbouer tussen die gemeenskappe." Petrus bedank almal wat Sac oor die jare ondersteun het.
Tertuis Simmers (links) en Geordin Hill-Lewis (regs) saam met die DA se kandidate vir die tussenverkiesing op 11 November. Hulle is Brendon Adams (wyk 17, Conville), Bazil Petrus (wyk 8, Parkdene), Braam America (wyk 27, Pacaltsdorp) en past. Melvin Roelfse (wyk 14, Rosedale en Pacaltsdorp).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'