GEORGE NUUS - 'n Groep ANC-lede wat in Borcherds woon het verlede Vrydag, 14 Julie, 'n vreedsame plakkaatbetoging op die Metrogronde gehou, waar 'n ministeriële besoek deur die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die provinsiale minister van menslike nedersettings en infrastruktuur, Tertuis Simmers, later daardie middag plaasgevind het.
Winde en Simmers se besoek aan die Metrogronde was deel van 'n oorsigbesoek van verskeie projekte, waaronder paaie projekte en die Gwaiing-brug.
Die ANC-groep wou hul ontevredenheid met die behuisingsprojek aan Winde en Simmers oordra.
Simmers het sowat twee weke gelede 'n sarsie huise aan begunstigdes oorhandig. Die betogers was ongelukkig omdat blykbaar net vyf van daardie gesinne van Borcherds afkomstig is. Hulle voel die toekenning van huise word verpolitiseer. Verder beweer die ontevredenes dat heelwat werkers wat by die projek betrokke is nie Suid-Afrikaanse burgers is nie.
Metrogronde is vir almal
Simmers het verlede week by navraag gesê die Metrogronde-projek is vir alle kwalifiserende begunstigdes in George, en nie net vir individue in Borcherds nie.
"Die toewysing van behuisingsgeleenthede word volgens die prioritiseringslys gedoen wat beteken individue met 'n gestremdheid, diegene ouer as 60 jaar en diegene wat lank op die waglys is, word eerste oorweeg," het hy gesê.
Simmers het gesê hulle is wel bewus van ANC-pogings om die projek te kaap vir politieke doeleindes, kort voor die tussenverkiesing in Borcherds (wyk 20), wat Woensdag plaasgevind het.
"Vanuit die staanspoor, tydens die sooispit van die projek, het ek dit benadruk dat hierdie 'n geïntegreerde behuisingsprojek is. Individue van verskillende gemeenskappe gaan integreer in die Metrogronde-projek.
"Tien subkontrakteurs wat voldoen aan alle vereistes is werk gegee op die terrein. Ek het elkeen van die werkers ontmoet en hulle is almal vanuit die breër George-area. Ons sal nie toelaat dat sekere individue die integrasie van gemeenskappe inhibeer ten einde vir noue en enge politieke doeleindes nie."
Wooneenhede op die Metrogronde word in verskillende fases aan begunstigdes oorhandig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’