GEORGE NUUS - Drie politieke partye, die DA, die VF Plus en die ACDP swaai nou die septer in die George-stadsraad. Dit volg nadat hulle Maandagoggend, 22 November, kort voor die begin van die stadsraadsvergadering 'n ooreenkoms geteken het wat voorsiening maak vir 'n koalisieregering.
Tydens die plaaslike regeringsverkiesing op 1 November kon die DA nie 'n volstrekte meerderheid behaal nie.
Maandag se ooreenkoms is deur Leon van Wyk van die DA, Gert van Niekerk van die VF Plus en Johan du Toit van die ACDP onderteken.
George Herald het betroubaar verneem dat dit voorafgegaan is deur intense samesprekings agter die skerms. Dit het blykbaar nog Sondag voortgegaan en is eers laat die aand beklink. Benewens die plaaslike leiers, was die leierskap van die partye op nasionale en provinsiale vlak ook betrokke. Uit gesprekke met van die leiers blyk dit dat al drie partye gelyke vennote is.
Gert van Niekerk van die VF Plus, het Dinsdag gesê 'n kontrak is geteken wat bindend, wettig en afdwingbaar is.
Daar is duidelike doelwitte en daar is gedeelde eienaarskap. "Dis 'n fenomenale deurbraak en tot voordeel van George."
Volgens hom is dit 'n nuwe tydvak vir George se stadsraadspolitiek. Die implikasie is dat ander partye nou deel is van die besluite wat in George geneem word. Voorheen was daar 'n enkele party wat in beheer was en sy eie besluite gemaak het. Dan het dit in 'n meerderheidsbesluit gemanifesteer as 'n raadsbesluit.
"Dis nou iets van die verlede," het Van Niekerk gesê.
Al drie partye moet saamstem en konsensus bereik voordat dit aan die raad aangebied sal word vir beslissing.
"Ons is oop vir samesprekings met enige party. Dis die wat ernstig is om die beste belange van George en al sy mense te wil bevorder."
Du Toit het bevestig dat al drie partye gelyke vennote is. "Dit is anders as in die verlede. Voorheen is jy gesien as 'n junior vennoot. Dit sal nou werk as ons almal dieselfde oogmerke het naamlik om George op te lig. Dit is dinge soos werkskepping en ekonomiese opheffing van die gebied. Ek is in die stadium gemaklik. Dit beskerm ons almal. Die tyd sal leer."
Marlene Barnardt, hoofsweep van die stadsraad en DA-lid, het gesê die party is gemaklik met sy koalisievennote. "Ons sien uit na 'n positiewe en produktiewe vyf jaar. Ek glo dat die span gaan bydra om van George die beste sekondêre stad in die land te maak wat tot voordeel van alle inwoners sal wees. Ons gaan optree in belang van al die inwoners."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'