Update
OUDTSHOORN NUUS - Barbara Owen, ‘n raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit was vanoggend die eerste getuie in die Preston Titus-moordverhoor. Volgens haar het sy einde November 2017 ‘n bedrag van R800 by Pep Stores in iemand se rekening oorbetaal nadat Magdaleen (Maggie) Titus, Preston se vrou, haar gevra het om dit te doen.
Maggie kon nie self dit oorbetaal nie omdat sy nie haar identiteitsdokument by haar gehad het nie. Owen het gesê sy weet ook nie aan wie die geld oorbetaal is nie.
Sixabiso Klip, die verdagte wat die dag van Maggie se arrestasie ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het en tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis is, is tans besig om te getuig. Lede van die publiek sit in spanning en luister na Klip se verduideliking van wat presies die dag van die moord gebeur het.
Klip het begin deur sy werksverhouding met Maggie te verduidelik en gesê dat hy nooit ‘n liefdesverhouding met haar gehad het nie. Volgens hom het Maggie egter wel ‘n verhouding met Masithembe January gehad. Die staatsaanklaer het hom gevra of Maggie nog verhoudings buite die eg gehad het, waarop hy reageer het dat daar regtig baie ander verhoudings was.
Volgens Klip moes die moord op Preston op 30 November 2017 gebeur het. Dit kon egter nie gebeur nie omdat Preston vriende gehad het wat daardie aand by hom oorgeslaap het.