NATIONAL NEWS - ‘n 49-Jarige inwoner van Brakpan-Sentraal het baie ‘n eienaardige ervaring gehad toe iemand om hulp roep en sy ‘n vrou onder haar bakkie betrap nadat sy ‘n hele ent gery het.
Cindy Wessels het onlangs net na 20:00 saam met twee vriende in haar bakkie geklim, wat op daardie stadium in haar erf geparkeer was, en in Brenthurst se rigting gery.
“Ons was min of meer by die begraafplaas toe ons vreemde geluide gehoor het. Ek het met my vriend ‘n grap gemaak en gesê hy moet kyk of daar nie iemand agter op die bak is nie,” vertel Wessels.
‘Hier is iemand onder jou bakkie’
Sy het reeds ongeveer ses kilometer met haar Ford Ranger afgelê en was amper by die Dal Fouche woonbuurt toe hulle iemand om hulp hoor roep.
“Ons het vir mekaar gekyk en kon nie verstaan wat aangaan nie.”
Wessels het die bakkie tot stilstand gebring en haar vriend gevra om te kyk wat aangaan.
Hy het met ‘n flitslig onder die bakkie geskyn en tot sy verbasing ‘n vrou opgemerk wat onder aan die bakkie vasgeklou het.
“Hier is ‘n vrou onder jou bakkie,” was sy woorde aan Wessels.
Sy het hom aanvanklik nie geglo nie tot sy die vrou met haar eie oë gesien het.
Op hierdie stadium het die vrou haar greep gelos en in die pad gelê.
“Ek kon my oë nie glo nie, ek wou net weet waar sy vandaan kom en hoe sy daar beland het,” vertel Wessels.
Die onbekende vrou het net in die pad gelê en het geweier om te praat.
“Ek het dadelik my broer gebel. Hy het die polisie en ‘n ambulans gebel.”
Met haar broer se aankoms het hy besef dat as Wessels nie die vrou gestamp het nie, sy moontlik al by die huis onder die bakkie gemaklik gemaak het.
Haar broer het inderhaas na Wessels se woning gery om agter die kap van die byl te kom en om vas te stel of daar moontlik nog iemand in die erf wegkruip.
Hy het op blou plakkies en ‘n paar oorbelle, wat waarskynlik aan die vrou behoort het, afgekom.

Intussen het die ambulans op die toneel aangekom en probeer vasstel waar die ongeïdentifiseerde vrou vandaan kom.
Sy het beweer dat Wessels haar in Prince Georgelaan gestamp en verder onder die bakkie gesleep het.
“Sy het later weer haar storie verander en vertel dat ek haar met die haak van my bakkie gehaak het en toe weggery het,” sê Wessels.
“As ek haar dan êrens op die roete wat ek gery het gestamp het en agterna gesleep het, hoe verduidelik sy haar besittings in my erf?” vra Wessels.
“My uitlaatpyp was gebuig soos wat sy daaraan vasgeklou het. Dit het ook haar voet gebrand en ek dink dit is hoekom sy om hulp geskree het.
“Dit gaan my verstand te bowe hoe sy vir ongeveer ses kilometer so kon vashou.”
Die vrou is per ambulans weggeneem vir verdere behandeling. Dit het ook voorgekom of die vrou moontlik bedwelmd kon wees, meen Wessels.
“Ek het nie eers ‘n idee wat haar naam was nie. Sy het net in ‘n verwarde toestand daar op die grond gelê,” sê Wessels.
Die gesin se huis is omhein met palisades en ‘n elektriese heining.
“Ek verstaan nie hoe sy in my erf kon kom nie en sy het nie toestemming gehad om daar te wees nie.
Alhoewel Wessels nou terugkyk na die bisarre voorval en dit selfs effe snaaks vind, sê sy dit het haar baie groot laat skrik.
“Dit kon baie anders uitgedraai het as ek moontlik oor die vrou gery het.”
Die identiteit van die vrou is nie bekend nie en wat met haar gebeur het nadat sy per ambulans weggeneem is, is ook nie duidelik nie.