PRINS ABLERT NUUS - Herstelwerk aan die Swartbergpas word tans nie net binne 'n rekordtyd voltooi nie, maar kos R20 miljoen minder as wat daarvoor begroot is.
Die pad word vandag (Vrydag 17 Nov) vir verkeer oopgestel nadat 2,5 km aan die noordekant, by Prins Albert, in April in 'n flitsvloed vernietig is. Dis egter reeds 'n maand gelede oor naweke as deurgangsroete oopgestel. Die finale afhandelingsdatum en heropening is in Maart aanstaande jaar.
Die Wes-Kaapse departement vervoer en openbare werke, onder leiding van minister Donald Grant, het die projek self bestuur en die herstelwerk aanvanklik op sowat agttien maande geraam. Altesame R30 miljoen is vir die werk begroot, maar tot dusver is net R10 miljoen bestee, het die departementele woordvoerder, Byron la Hoe, aan Oudtshoorn Courant gesê.
Grant het Prins Albert verlede week besoek en die herstelspan gelukgewens met hul vinnige vordering.
Volgens Linda Jaquet, onderburgemeester en voorsitter van die Swartbergpas-aksiegroep, is die nuwe padoppervlak van 'n uitstekende gehalte. Dit uitstekende nuus dat verkeer van Vrydag af in albei rigtings toegelaat word, maar onder bepaalde voorwaardes. Terwyl die herstelwerk voortgaan, sal die verkeer op 'n stop/ry-grondslag gemonitor word. Dis opwindende nuus vir ons vriende en gaste en besoekers aan die dorp. Ons moet onthou dat dit steeds 'vorderingswerk' is. Daarom is dit belangrik dat alle padtekens in die werkgebied gehoorsaam word. Geduld en versigtigheid moet aan die dag gelê word."
Annelie Rabie, 'n Prins Alberter en lid van die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit, asook kiesafdelingsvoorsitter, het by navraag gesê die padopening is uitstekende nuus vir toerisme en sakeondernemings in Prins Albert.
"Die sluiting van die pad die afgelope maande het weereens bewys dat die toerismesektor van die dorp ernstig afhanklik is van die toerismevoete wat die pas genereer. 'n Groot getal reisigers, soos motorfietsryers, individue of groter én kleiner georganiseerde toergroepe het Prins Albert bloot nie meer besoek nie. Die sluiting het bewys dat die pas weens sy ouderdom baie kwesbaar is vir erge reënweer. Omgewingsuitdagings soos erosie, instandhouding en herstelwerk binne die historiese raamwerk skep risiko's wat deurlopend gemonitor moet word."
Volgens Rabie het die herstelwerk gesorg dat sowat vyftig huishoudings oor die sewe maande 'n inkomste gehad het vanweë tydelike werksgeleenthede. "Ek hoop dat dié mense wat nou met die herstel van steenwerk te doen gehad het, 'n bykomende vaardigheid verwerf het wat ons goed kan gebruik, soos onder meer om ou grafte in die dorp te herstel."
Nadat die pas 'n maand gelede oor naweke oopgestel is het Prins Albert se sakelui en toerismeorganisasie gesê hulle het onmiddellik 'n toename in verkeer en besoekers ervaar. Motorfietse word, ná 'n maande lange afwesigheid, veral weer in die dorp opgemerk. "Die meeste restaurante sê hulle is besiger. Dit val natuurlik saam met die begin van die besiger seisoen," sê Ellen Joubert, woordvoerder van Prins Albert-toerisme. "Tradisioneel begin ons internasionale besoekers ontvang vanaf Oktober. Dis wonderlik dat die pas weer oop is, want ons gaste kom juis hierheen om dit te sien."
ARTIKEL: MARLENE MALAN
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'