WES-KAAP NUUS - Premier Alan Winde het Sahpra (South African Health Products Regulatory Authority) se aankondiging gister (27 Januarie) verwelkom dat dit nou met dokters gaan beraadslaag om te kyk na deernisvolle beheermeganismes ten opsigte van ivermektien, asook ander terapeutiese middels, om Covid-19 te behandel.
Hy het daarna verwys in 'n digitale konferensie gistermiddag.
Winde het gesê met entstowwe aan die een kant en terapeutiese middels aan die ander, word 'n omgewing geskep wat owerhede se hand versterk om die pandemie na die beste van hul vermoë te bestuur.
Sahpra sal binnekort meer inligting bekendmaak oor protokol vir toegang tot die middel.
Die polemiek rondom ivermektien as behandelingsmiddel vir Covid-19 het die afgelope ruk hoogty gevier. 'n Tekort het ontstaan omdat meer mense dit begin gebruik het, volgens Theo de Jager, voorsitter van Saai (die Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief).
Dit veroorsaak "uitdagings" wat betref beskikbaarheid en bekostigbaarheid vir boere, die eintlike gebruikers van die middel wat in Suid-Afrika slegs geregistreer is vir gebruik in diere.
Na wat verneem word, beweeg die voorraad vinnig by 'n plaaslike handelaar, wat dit nie by navraag wou bevestig nie.
'n Plaasboer van die George-omgewing, wat anoniem wil bly, het gesê hy het voorraad gaan koop en behandel sy eie gesin en plaaswerkers voorkomend daarmee.
AfriForum het ook 'n dringende hofaansoek teen Sahpra gebring in 'n poging om ivermektien beskikbaar te maak vir dokters om Covid-19 te behandel. Barend Uys, AfriForum se navorsingshoof, het gesê die organisasie het die saak begin nadat dokters se aansoeke onsuksesvol was.
"Ivermektien is by die Wêreldgesondheidsorganisasie gelys as 'n noodsaaklike middel, en die veiligheid daarvan is bewys, ook in kinders."
Uys sê studies in verskeie lande het gewys dat die middel die potensiaal het om Covid-19 te behandel en sterftes te verminder. "Die balans tussen risiko en voordeel is duidelik; daarom neem ons hierdie stappe om beskikbaarheid te verseker."
Volgens Sahpra word ivermektien oor die algemeen aanvaar as 'n veilige middel. Dit word gebruik om verskeie tropiese siektes in mense te behandel wat nie algemeen in Suid-Afrika voorkom nie.
Sahpra reik wel per geleentheid permitte uit vir die gebruik van ivermektien om individue met toestande soos skurfsiekte en luise te behandel. Sahpra sê daar is nie bewyse uit kliniese proewe wat die gebruik daarvan vir Covid-19 regverdig nie.
Dr. Jantjie Taljaard van die Tygerberg-hospitaal se eenheid vir aansteeklike siektes beaam dit. Hy sê daar is wel 'n paar studies in die pyplyn wat uitsluitsel kan gee oor die gebruik van die middel.
"Dis belangrik om die mediese- wetenskapsmileu te verstaan. Ons is gebind daaraan om nie skade te berokken nie en daarby is die geskiedenis ongelukkig vol voorbeelde waar daar menseregteskendings plaasgevind het in die naam van mediese sorg. Daarom die versigtige benadering aangaande die data vir die gebruik van 'n middel vir 'n indikasie waarvoor dit nie geregistreer is nie. Almal ondersteun egter die gebruik van die middel in navorsingsprojekte om sekerheid te kry oor of en hoe ons die middel kan gebruik teen Covid-19."
Hy sê dit mag nodig wees dat hoër doserings van ivermektien nodig sal wees vir Covid in vergelyking met wat gebruik word vir parasietinfeksies.
"Alhoewel dit waarskynlik nie lewensgevaarlik sal wees nie moet dit met redelike sekerheid bevestig word.
"Iets waaraan min mense aandag gee, is die wêreldwye beskikbaarheid van ivermektien vir die behandeling van lewensgevaarlike infeksies in die trope. Sou dit nou sonder enige goeie rede op massiewe skaal gebruik word vir Covid-19, gaan daar groot tekorte ontstaan in daardie lande waar dit nodig is."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'