Haar desperate pa het sowat ses jaar gelede gesmeek: “Soek asseblief vir my dogter ‘n goeie man.” Dit was nadat sy dogter vir die soveelste keer in ‘n gewelddadige verhouding betrokke was.
Maar oud-brigadier Koos Schreuder, wat ‘n bevelvoerder in die destydse Suid-Afrikaanse polisiediens was, se smeekgebede en pleitboodskappe aan sy vriende en kennisse, het nie sy 35-jarige dogter se lewe gered nie.
Nicolene is verlede Woensdagoggend na bewering deur haar verloofde, Dawid Connoway (39), by haar werkplek in Rubensteunlaan in Moreletapark doodgeskiet.