PRINS ALBERT NUUS - South African Water Warriors het in die afgelope week R20 000 se kontantskenkings ontvang vir droogtehulp vir die inwoners van die Prins Albert- en Leeu Gamka-gebied.
Dit was in reaksie op 'n aankondiging in die George Herald en op sosiale media verlede week dat Water Warriors op Saterdag 7 Desember 'n uitreik na die boere en plaaswerkers in die gebied gaan doen.
Kell Aluminium and Powder Coating het R5 000 geskenk en ander besighede uitgedaag om hulle sakke te skud. 'n Ernstige beroep word op enigeen gedoen om bydraes te maak. Die geld sal aangewend word om voer te koop. Skenkings van water, troeteldierkos en kruideniersware is altyd ook broodnodig en sal ook oor die berg geneem word.
"Ons kan nooit genoeg skenkings kry nie - daar is maar altyd 'n tekort. Dit is hartverskeurend om van 'n plek af weg te ry waar boere en plaaswerkers met groot verwagting gekom het om bietjie voorrade op te tel, maar dan is daar nie genoeg nie," sê Pieter du Plessis van Water Warriors, wat baie hartseer verhale het van mense wat moedverlore is.
"Mense se skenkings is baie keer net daardie bietjie bemoediging wat iemand nodig het om weer die kop op te tel en te hoop," sê Du Plessis.
'n Totaal van 322 families van boere en plaaswerkers is in hierdie gebied getel wat dringend hulp nodig het. Mense wat vir Prins Albert en Leeu Gamka wil skenk, het nog tot Vrydag 5 Desember tyd.
Du Plessis is baie dankbaar vir die mense wat tot dusver hulle hande en harte oopgemaak het. "Een persoon het vyf sakke hondekos en vyf sakke katkos gekoop. Dit is 'n riem onder die hart. 'n Vrywilliger het ons ook genader wat van Desember af tot volgende Mei op Saterdae 'n tafel by van die groot supermarkte gaan beman waar klante skenkings kan laat vir ons uitreike na alle gebiede.
"Ons vra dat mense hier ook hulle steun sal gee. Ons aan hierdie kant van die berg weet nie hoe sleg dit werklik aan die anderkant gaan nie. As gemeentes of organisasies net wil oorry en vir hulself gaan sien en 'n hand wil uitsteek, kan soveel meer gedoen word. Die skenkings wat ons neem voel baie keer so min, want die nood is ontsaglik groot."
Du Plessis sê daar is 'n afname in werkvoorsiening op plase. In sommige gevalle gaan boere elders werk terwyl die vrou op die plaas agterbly om die fort te hou. Hy sê Water Warriors is ook vandeesweek verras met 'n skenking van R10 100 van 'n groep Suid-Afrikaanse vroue in Dubai.
Hulle het die geld ingesamel deur vetkoek en Suid-Afrikaanse gebak te verkoop. Sulke pogings raak hulle diep aan die hart. Besighede en individue wat vervoer gratis aanbied, is een van die bene wat die organisasie se werk moontlik maak.
Water Warriors het onder meer onlangs 'n baie groot besending water na Graaff-Reinet geneem en Maandag is 'n groot voorraad in Hammanskraal afgelaai. Al hulle uitreike word op die Water Warriors Facebook-blad gelaai.
Mense kan kontantskenkings vir die uitreik na Prins Albert en Leeu Gamka in Water Warriors se rekening inbetaal met die verwysing CAW FEEDS.
Die bankbesonderhede is:
- South African Water Warriors,
- FNB tjekrekening 627 852 151 48,
- Tak: 200 410.
- Onthou: REF: CAW FEEDS.
Vir meer inligting, kontak Du Plessis by 076 844 6435 of Fanus Venter van Kell Aluminium by 082 831 5548.
SA Water Warriors is 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'