Eskom is jare agterstallig met dringende werk aan noodsaaklike hoëspanningsinstallasies wat 400 000 volt van die nasionale elektrisiteitsnetwerk by die Philippi-verdelingstasie herlei.
Ingenieurs van die Kaapse stadsraad se elektrisiteitsafdeling het Eskom reeds in 1999 gewaarsku dat “hier teen 2012 probleme gaan wees”.
Een van die stad se ingenieurs, Edgar Capes, het gister aan die stadsraad se portefeuljekomitee oor nutsdienste gesê die Philippi-herleistasie word tot op 150% oorlaai. Twee oorhoofse kraglyne voer krag na die twee transformators by Philippi en indien daar fout gaan met die een transformator of die herleidingstoerusting, sal die oorblywende transformator oorlaai word en groot dele van Kaapstad sonder krag sit.