NASIONALE NUUS - 'n Onderwyser van Oudtshoorn, Glen Snyman, het die afglope week nie net nasionale media gehaal nie, maar ook internasionale media.
Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement dissiplinêre stappe teen Snyman wou neem omdat hy glo oor sy ras gejok het in 'n aansoek as skoolhoof in 2017.
Volgens die departement het Snyman op die dokumentasie aangedui dat hy "African" is eerder as om te sê dat hy 'n bruin man of sogenaamde "Coloured" is.
Dit is nie duidelik waarom die stappe eers drie jaar na die aansoek geneem is nie.
Snyman was op daardie stadium 'n onderwyser by Fizikele Sekondêre skool in Oudtshoorn waar hy om die hoofpos aansoek gedoen het.
Sy aansoek was onsuksesvol en hy is tans 'n onderwyser by 'n landelike skool buite Oudtshoorn.
Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys het gister haar skok uitgespreek dat iemand van bedrog aangekla word omdat hy homself volgens sy eie keuse klassifiseer.
Die klagtes is intussen teruggetrek, maar die storie het letterlik wêreldwyd uitgekring.
Die kwessie wat tans oral in die media opslae maak, is 'n uitvloesiel van Snyman se pogings om alle verwysings na rasseklassifikasie op vorms te laat wegval.
Die Oudtshoorn Courant het reeds in 2011 oor Snyman se organisasies, People Against Racial Classification (PARC) berig en sedertdien is Snyman reeds nege jaar besig om genoeg steun vir sy inisiatief te kry om die regering te dwing om weg te doen met rasseklassifikasie.
Die leuse van PARC is "I am not a coloured, black, indian or white person, I am a South African".
Volgens hulle resolusie dring PARC daarop aan dat alle verwysings na ras en kleur van onderwysdokumente verwyder moet word. Op die langtermyn is PARC se oogmerk dat die regering en privaat instansies alle vorme van rasseklasifikasie moet verwyder.
Volgens Snyman is die stelsel waar Suid-Afrikaners steeds hulle kleur op vorms moet invul of aftik teenstrydig met die grondwet. "Die blokkies op vorms waar mense hulle ras moet aftik is niks anders as diskriminasie op grond van pigmentasie nie. Is ons dan nie volgens die grondwet veronderstel om almal dieselfde te wees nie?" Was Snyman se vraag reeds in 2011. Hy het PARC in 2010 gestig.
Die huidige media-herrie gee Snyman en PARC opnuut blootstelling en stukrag en uit kommentare op sosiale media is daar talle mense wat hom steun.
Die Oudtshoorn Courant het gister gevra om vandag met Snyman te gesels, maar alhoewel sy storie reeds wyd op mediaplatforms gedek was, het hy gesê hy mag nie met die media praat nie.
Hy het egter vanoggend op Facebook gesê dat hy vanmiddag na 15:00 beskikbaar sal wees as die media met hom wil praat.