En só sou dit seker vir jare gebly het – tot die nuuskierigheid oor wat die eintlike betekenis van die skrif op die steen die oorhand oor ‘n terreinagent gekry het. Op die grafsteen is dié reël uit ‘n gedig van die bekende Afrikaanse digter Totius, “O die pyngedagte: my kind is dood!” gegraveer.
Maar die reël wat daarna volg en wat nie deel vorm van Totius se gedig nie, is wat Trevor Fenn laat stilhou het.
Daar staan verder, ” Here vergewe hom, hy weet wat hy gedoen het!”
Trevor vertel hy was besig om terreininspeksie in die Sterkfontein Begraafplaas te doen toe hy die grafsteen van Dickson langs die pad raaklees.
“Terwyl ek stadig deur die begraafplaas gery het, sien ek dié grafsteen, wat amper verlate op ‘n grasperk uittroon.”
Hy het gesê hy het gestop om die grafsteen van nader te bekyk en dit is toe dat hy oor die eintlike dood van Dickson – wie se ouderdom onbekend is omdat sy geboortedag nie bygevoeg is nie – begin wonder het.