Die inwoner van Brakpan-sentraal was op 2 Januarie saam met haar man in ’n voertuig oppad na Johannesburg.
Haar niggie en dié se man was in hul eie voertuig oppad na dieselfde bestemming.
“My niggie-hulle se voertuig het ’n pap wiel gekry en hulle het nie ’n spaarwiel gehad nie,” het die vrou vertel.
“Ek en my niggie het besluit om by die motor te wag terwyl die mans gery het om die wiel te laat reg maak. Ons het nie vir een oomblik gedink dat ons nie veilig sou wees nie,” het die vrou verduidelik.
“’n Man, met merke in sy gesig en ’n doek om sy kop, het ewe skielik te voorskyn gekom.”
“Hy het ’n wapen in sy hand gehad en die wilde kyk in sy oë sal ek nooit vergeet nie. Ek het moord gesien,” het die vrou gesê.