GEORGE NUUS - Dit lyk of die DA kennis geneem het van die uitdagings waarvoor hy in George staan, want die party het sommer twee nuwe kiesafdelingshoofde aangestel.
Geordin Hill-Lewis en dr. Mimmy Gondwe, beide parlementslede van Kaapstad, neem op 1 Julie die leisels oor by Andricus van der Westhuizen van Stellenbosch wat sedert Mei 2018 die DA-kiesafdelingshoof vir George was.
Beide Hill-Lewis en Gondwe besoek George aanstaande week om hul eerstehands van die situasie te vergewis.
Dit is algemeen bekend dat daar interne woelinge in die DA van George is en in die politieke wandelgange word selfs gepraat van verskillende faksies. Vrae word ook gevra soos hoekom die DA-leiers en die DA-beheerde provinsiale regering nie al lankal opgetree het nie. Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het by navraag bevestig dat twee nuwe kiesafdelingshoofde aangestel is. Volgens Londt is besluit om twee kiesafdelingshoofde vir George aan te stel as gevolg van "die grootte van die kiesafdeling".
Die DA se verwagting is dat die party se strukture optimaal sal funksioneer en deeglike oorsig sal plaasvind saam met die DA-leierskap. Voorts dat die DA se manifesto deeglik uitgerol sal word. "Daar is heelwat grond wat opgemaak moet word in George."
Hy het benadruk dat hy dankbaar is dat 'n stewige fondasie gelê is vir die volgende verkiesing.
Londt het die onlangse aankondiging verwelkom dat James Selfe later vanjaar die nuwe pos van DA hoof van staatsbestuur gaan vul. "Hy (Selfe) sal met 'n vergrootglas ingaan daar waar die DA aan bewind is." Hill-Lewis (32) het gesê dit is in die stadium vroeë dae. Hy besoek George aanstaande week en sal dan met die belanghebbendes praat. Dit is sy tweede termyn as parlementslid. Hy is oorspronklik van Plettenbergbaai en het later na Paternoster aan die Weskus verhuis. Nog later na Kaapstad waar hy reeds meer as 20 jaar woon.
Hy sien die feit dat hy nie van George is nie, as 'n voordeel vir sy nuwe pos. Dit beteken dat hy geen bagasie het nie.
Hy is bewus van die uitdagings in George. Hy wil die span in George bymekaarkry sodat daar gewerk kan word en gefokus kan word op die toekoms.
Hill-Lewis wil ook seker maak dat die DA voortgaan om die inwoners se vertroue en steun te verdien.
Geordin Hill-Lewis , DA-parlementslid en een van die party se nuwe kiesafdelingshoofde vir George.
Gondwe (42) het gesê sy sien uit na die nuwe uitdaging en sal aanstaande week saam met Hill-Lewis in George wees.
Dit is haar eerste termyn as parlementslid. Sy het voorheen by die parlement as inhoudsadiviseur vir 'n staande komitee gewerk. Sy het meesters- en doktorsgrade in regte aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Ook sy glo dit is tot haar voordeel dat sy nie van George kom nie. "Ek kom met 'n vars oog en 'n nuwe perspektief."
Sy is bewus van die uitdagings in George, maar glo die stad is net soos ander plekke in Suid-Afrika nie vrygestel van uitdagings soos armoede en werkloosheid nie.
Volgens haar is daar is mense wat goeie werk in George doen. Sy is van voorneme om te help en gaan nie soos 'n skoolhoof optree nie. Sy glo daar is meer dinge wat mense in Suid-Afrika saambind, as wat hulle verdeel.
Dr. Mimmy Gondwe, DA-parlementslid en een van die party se nuwe kiesafdelingshoofde vir George
Wat sê James Selfe?
In verlede week se uitgawe van die Mail & Guardian het James Selfe, wat in die stadium nog die voorsitter van die DA se federale raad is, na George-munisipaliteit in die WesKaap verwys as onder die, wat probleme het. Onlangs is aangekondig dat Selfe in Oktober sy huidige pos gaan verlaat en dan in die DA verantwoordelik gaan wees vir staatsbestuur.
Luidens die berig het hy erken dat ‘n groot taak wag. In die onderhoud word na George verwys as ‘n voorbeeld van die mees “lastige”.
Die Valke ondersoek ernstige beweringe van korrupsie, daar is faksies in die DA-koukus van die stadsraad en daar is beweringe dat die Uitgebreide Openbare Werke-Programme (EPWP) gebruik word om politieke guns te verwerf. Selfe het bygevoeg daar is DA-beheerde rade wat baie goed bestuur word, maar dit word nie behoorlik aan die publiek gekommunikeer nie.
Na aanleiding van die artikel het ‘n leser van die George Herald vrae gestuur waarop die leser antwoorde van die DA-leierskap en Alan Winde, Wes-Kaapse premier, wil hê.
Die leser wil onder meer weet:
- Hoe het dit gebeur dat hulle nou eers die probleme in George besef?
- Hoekom word die probleme nie aan die publiek / kiesers verduidelik nie?
- Wat gaan hulle nou daaromtrent doen? En wanneer?
- Waaruit bestaan die faksies?
- Is die raadslede wat wetlik optree dan ‘n faksie? (Is dit regverdig om hulle so te benoem?)
- Is dit regverdig dat die publiek moet wag totdat die DA uiteindelik miskien gaan optree?
- Is daar tans nog steeds onwettige goed wat aan die gang is?
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'