OUDTSHOORN NUUS - Elf verdagtes, wat die afgelope naweek deur die Valke in hegtenis geneem is, het vanmiddag net na 14:00 in die hof verskyn.
Die aanvanklike verklaring van kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê dat nege persone in hegtenis geneem is.
Noloyizo Tose, Thabo Mgaba, Sandile Johnson, Ingrid Wagenaar, Ivan Human, Warren Coetzee, Yolande Stalmeester, Phumezo Tshomiso, Samuel van Hansen, Promises Sovasi en Xolile Gaya staan tereg op verbreking van die padverbruikerswet, bedrog en korrupsie.
Van die verdagtes is amptenare van die munisipale verkeersafdeling en ander is betrokke by 'n bestuurskool in Oudtshoorn.
Sewe van die verdagtes het reeds regsverteenwoordigers aangestel.
Jacolize Jordaan, staatsaanklaer, het vandag aan die hof gesê dat hulle minstens sewe dae nodig het voor hulle met die borgtog kan voortgaan omdat nog aanklagte, wat nog gefinaliseer moet word, bygevoeg gaan word.
Adv. Benito Metembo het egter gesê dat sewe dae heeltemal te lank is en dat sy kliënte reeds die naweek in die polisieselle deurgebring het.
Twee van die verdagtes is weens mediese redes op waarskuwing vrygelaat en die res bly in aanhouding tot môre sodat al die regsverteenwoordigers die hofsaak kan bywoon om die borgtogaansoek te bespreek.
Lees meer op Susterskoerant, Oudtshoorn Courant
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'