NASIONALE NUUS - Die volstruisbedryf is op hete kole nadat die hoogspatogene H5N8-virus vermoedelik op twee plase in die Heidelberg distrik uitgebreek het.
Die twee plase is onder kwarantyn geplaas.
“Daar is geen volstruise wat kliniese simptome van die virus toon nie,” het Piet Kleyn, hoof uitvoerende bestuurder van die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK), Maandagoggend in Oudtshoorn gesê. “Toetse word gedoen om seker te maak of dit wel dié virus is.”
Dit is die eerste keer dat dié hoogs aansteeklike voëlgriepvirus, ’n tipe H5N8-patogeen, in die Wes-Kaap voorkom nadat dit vroeër vanjaar op hoenderplase in Mpumalanga en Gauteng aangemeld is.
Na aanleiding van die uitbreking in die noordelike provinsies, is uitvoere van rou pluimveeprodukte, wat rou volstruisvleis insluit, verbied.