Dit was die hooftema van die vakbond Solidariteit se krisisberaad wat Dinsdagoggend by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou is.
Ongeveer 1 500 afgevaardigdes van verskeie Afrikaner-organisasies, ondermeer AfriForum en die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigninge (FAK), het die beraad bygewoon.
Die beraad voel onder meer dat die heersende ANC-regering die Afrikaner reduseer tot ‘n uitgewerkte “volk” wat nie meer self besluite oor sy taal, (met verwysing na die universiteite wat al hoe meer verengels), standbeelde (wat na ‘n temapark geskuif moet word) en groeiende rassevoorskrifte wat die sakesektor strem, kan neem nie.
Daar is besluit om ‘n mosie van wantroue teen president Jacob Zuma se regering in te neem en dat daar ‘n spesiale taakspan aangestel moet word om ‘n omvattende strategie uit te werk sodat Afrikaners ook vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan voortbestaan.
In ‘n hoogs emosionele toespraak het dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit, die kompanieburger Hendrik Biebouw, wat in 1707 in die Kaap aangeland het, aangehaal wat verklaar het, “Ik ben een africaander – ik wil niet loopen.”
Hermann het bygevoeg, “Ek gaan ter wille van myself, my familie en my gemeenskap hier bly. My agterdeur is toe; ek gaan nêrens heen nie. ‘n Groot daad van politieke protes is om te sê: ‘Weggaan is nie ‘n opsie nie. Ek bly net hier’.”
Hermann het die “krisis waarin die Afrikaner nou gedompel is” vergelyk met die tydperk voor en na die Anglo-Boereoorlog. “Indien ons dus oplossings soek om hier te bly, moet ons dit soek in die opstaantyd ná die oorlog – ‘n onsekere tyd en ‘n onvriendelike regering.”