Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Meeste skole in George het vanoggend soos normaal voortgegaan, nadat die Nasionale Professionele Onderwysers-organisasie van Suid-Afrika (Naptosa) Vrydag gevra het vir protesaksie vandag.
Ockie van Niekerk van Naptosa Wes-Kaap sê hulle het gevra vir die protesaksie om te wys hulle is ernstig toe hulle gevra het dat die infasering van nuwe grade vertraag of uitgestel moet word.
Volgens Van Niekerk sou verskeie skole vanoggend deelgeneem het aan die protesaksie, maar behalwe vir Hoërskool George, was daar geen onderbrekings by skole nie.
“Ek was al van 07:00 by skole, maar skole se tye is later, so hulle het later hulle protes gewys. Ek was ook by Hoërskool George. Die protes is deur die ouers gereël.”
Naptosa se siening bly dieselfde.
By Hoërskool Thembalethu was dit vanoggend stil en geen onderbrekings. Foto: Alida de Beer.
“Dit is te vroeg om ander grade in skole toe te laat.” Hy sê daar word opgelet dat positiewe Covid-19-gevalle met meer as 10 000 per 24uur styg. “Ons wil nie onderwysers en nie-onderwyspersoneel blootstel nie.”
Verskeie skole het aangedui dat daar baie verwarring geskep is toe die minister van basiese onderwys, Andie Motshekga, aangedui het dat gr. R,1, 2 en 3 saam met gr. 6 en 11 vandag moes teruggaan skool toe. Skole moes toe spring en ekstra reëlings tref vir die ekstra leerders wat sou terugkom.
Kyk 'n video hieronder
Motshekga het toe laat verlede week weer ‘n aankondiging gemaak dat net gr. R leerders saam met gr. 6 en 11 sou terugkeer skool toe. Dit het verligting gebring vir onderwysers, maar volgens Van Niekerk voel hulle steeds dat dit te vroeg is om die leerders terug skool toe te stuur.
Suenay-Leigh Minnie (5), 'n gr. R-leerling by Dellville Park Primêr op pad skool toe. Haar ma, Fransoline, sê alhoewel sy bietjie bekommerd is om haar kind skool toe te stuur, weet sy die skool het alles in plek om leerders veilig te hou. Foto: Lizette da Silva
Dellville Park Primer het ook vanoggend van hulle jonger leerders terug verwelkom. Foto: Lizette da Silva
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'