MOSSELBAAI NUUS - Die man wat van die moord op ‘n boer van Hartenbos aangekla is, die 35-jarige Lamlani Booi is vandag, in die hoërhof op Mosselbaai op vyf aanklagte skuldig bevind.
Dit sluit in ‘n aanklag van moord, twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede en twee aanklagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.
Alhoewel Booi tydens die verhoor volgehou het dat hy nie by die moord op die 54-jarige Freddie Tolman, of by ‘n rooftog by die Mosselbaai-gholfklub betrokke was nie, het Regter Robert Henney tydens sy uitspraak gesê dat Booi kat-en-muisspeletjies met die hof gespeel het.
Booi is deur middel van vingerafdrukke beide met die moord en die rooftog verbind. Tolman is op die 17 Desember, 2014 twee keer op sy plaas geskiet terwyl hy in sy bakkie gery het. Niks is tydens die voorval gesteel nie.
Bykans ‘n jaar na die moord is besoekers by die Mosselbaai-gholfklub met wapens aangehou, vasgebind en beroof. Henney het aan Booi gesê dat hy steeds ‘n keuse het om met die hof oopkaarte te speel en dat sy berou en eerlikheid selfs nadat uitspraak gelewer is, moontlik sy straf kan versag.
Booi het egter aangedui dat hy niks verder te sê het nie, en ontken steeds skuld.
Lees meer op ons susterskoerant, Mossel Bay Advertiser.