NASIONALE NUUS - Saai, ‘n organisasie vir familieboere, is bekommerd oor die wild- en jagbedryf. Luidens ‘n verklaring van die organisasie, het die COVID-19-regulasies die reeds brose Suid-Afrikaanse ekonomie verder verswak.
Hoewel boerderye met sake kon aangaan, het die ontwrigting van markte soos die restaurant- en kantienbedryf en die informele sektor baie produsente in ’n finansiële verknorsing gelaat. Tabak-, wyn- en wildboere is in die moeilikheid en kontantvloeikrisisse staar veral kleiner familieboerderye in die gesig.
Saai stel tans die belange van familieboere en plaaswerkers in die tabakbedryf se saak in die hofstryd teen die drakoniese veldtog teen rook wat die staat deur COVID-91-regulasies voer.
“Die wild-en jagbedryf gee ons egter die meeste slapelose nagte. Buitelandse jagters, wat met trofeejag by verre die grootste omset op wildplase stimuleer, gaan nie vanjaar hierheen kom nie. Duisende het gekanselleer. Dit het ’n verdoemende impak op werkgeleenthede, veilings, slaghuise, gastehuise, taksidermie en wapenwinkels.
"Dit haal ongeveer R20 miljard uit die diep plattelandse ekonomie uit en laat elke wildboer in ’n finansiële verknorsing,” het dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai se direksie, gesê.
Saai gaan daarom hierdie winter ’n groot Gaan jag!-veldtog van stapel stuur. Hoewel plaaslike biltongjag nooit kan vervang wat ons aan buitelandse trofeejag verloor nie, kan dit deurslaggewend wees om wildboere op hul plase te hou, meen De Jager.
“As jy ’n geleentheidsjagter is wat so elke paar jaar met ’n geweer op die plaas kom, is 2020 weer die tyd daarvoor. Dit is die ideale geleentheid om herinneringe, foto’s en biltong saam met jou familie bymekaar te maak iewers in die Afrika-bos. Vir ’n ander familie beteken dit die verskil tussen oorlewing en ondergang.”
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'