GEORGE NUUS - Dr Franklin Sonn,'n voormalige ambassadeur in Amerika en een van die mees gerespekteerde openbare figure in Suid-Afrika, is gister, Saterdag 15 November, in die ouderdom van 86 jaar oorlede.
Hy het saam met sy vrou, Joan, in hulle huis in Fancourt, George, gewoon. Volgens sy seun, Crispin, was hy saam met sy ouers in hul woonstel in die Kaap toe sy pa vermoedelik 'n hartaanval gehad het terwyl hulle rugby gekyk het. Sonn het verlede week 'n hartpasaangeër in 'n hospitaal in die Kaap gekry.
"Die dokters het ontdek daar was ook redelike verkalking van are en hy sou volgende week nog 'n prosedure daarvoor ondergaan. Ons het nie verwag dat sy hart so verswak het nie."
Sonn sê paramedici het sy pa om ongeveer 15:30 dood verklaar.
"My pa was baie lief vir George en wou graag nog vir 'n paar dae daar deurbring. Hy was geweldig lief om in hul pragtige tuin te sit en hy het daarna uitgesit om dit te doen voor hy vir die prosedure sou terugkom. Ons plan was om vanoggend [Sondag] George toe te vertrek."
Volgens Sonn was sy pa die groot patriarg van die Gelderbloem- en Sonn-families. Joan se familie is die Gelderbloems van George.
"My pa het 'n ongelooflike humorsin gehad en het nie geduld gehad dat mense te emosioneel of kwaad raak oor 'n saak nie. Hy het gevoel 'n mens moet die feite opweeg en kon oor enige onderwerp debatteer op 'n filosofiese en praktiese vlak."
Sonn was een van die eerste persone om Nelson Mandela na sy vrylating te ontmoet.
Sonn was 'n raadgewer vir talle - familie, vriende en jongmense het altyd sy advies gevra. "Hy het hoë standaarde gehad en het baie van mense verwag, maar het ook baie teruggegee."
Sonn was nog aktief tot met sy dood. Hy en Joan het verlede maand self van George af Kaap toe gery en het Vosburg, sy geboorteplek, ook onlangs besoek.
Sy grootwordjare was in Queenstown in die Oos-Kaap en later in Kaapstad. Hy het in sy ouers, albei onderwysers, se voetspore gevolg en net soos hulle 'n aktiewe openbare lewe gehad waar hy vurig opgestaan het vir geregtigheid en gelykheid.
Hy het 'n BA Honneurs aan die Universiteit van die Wes-Kaap behaal en is later vereer met eredoktorsgrade deur talle vooraanstaande internasionale hoëronderwysinstellings, onder meer die Howard Universiteit in Washington en Baruch College van die City University in New York.
Saam met sy vrou, Joan.
Volgens die Presidensie se webtuiste, was hy op 'n stadium hoof van Spes Bona in Athlone en is in 1977 as rektor aangestel van Kaapstad Skiereiland Technikon (vandag die Kaapstad Skiereiland Universiteit van Tegnologie).
Hy het hy op die rade van sewe groot Suid-Afrikaanse banke en sakeorganisasies gedien, was president van die Kaapse Onderwysersvereniging van Suid-Afrika, kanselier van die Universiteit van die Vrystaat, 'n lid van die Nelson Mandela Stigting se Adviesraad en voormalige president van die Afrikaanse Handelsinstituut. Hy was die medestigter en voltydse direkteur van New Africa Investments Limited en Corporate Africa Investments.
In 1992 was hy deel van die Jimmy Carter-span wat Zambië se algemene verkiesing gemonitor het, en in 1994 het hy vir die ANC in die Wes-Kaap verkiesingsveldtog gevoer. President Nelson Mandela het hom in 1995 aangestel as Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA, waar hy drie jaar gedien het.
Sonn se outobiografie, Karooseun, is in onlangse jare uitgegee, ook in Engels onder die titel, From Vosburg to Washington.
Sonn laat sy vrou, Joan, Crispin en sy dogter, Heather, agter.
Dr Franklin en Joan Sonn met hul seun, Crispin, en sy vrou, Lisa (in blou) en hul vier kinders: Franklin op sy oupa se skoot, Emma tussen haar ouma en pa, Joshua heel ager
en Lebu links.
Saam met familie en vriende.
'n Ete saam met sy vrou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’