MOTOR NUUS - Met die onlangs aankondiging van 'n verhoging in BTW en Ad Valorum-belasting (op duurder voertuie vir die rykes) was dit te verwagte dat die Maart-verkopesyfers kunsmatig hoog sou wees. Dit het toe inderdaad gebeur en totale verkope was 535 eenhede, ofte wel 1,1 % hoër as in Maart 2017 – vir 'n totaal van 49 223.
Trouens, sekere invoerders soos Porsche is waarskynlik betaal vir voertuie wat nog op skepe is.
Onder die topverkopers – die gebruiklike toptien – was Toyota oudergewoonte baas met 'n indrukwekkende totaal van 11 378 – nagenoeg 700 eenhede meer as in Februarie vanjaar. Wat veral beïndruk het, was Hilux-verkope wat nou in die rigting van 4 000 eenhede per maand neig met 'n allemintige 3 825 verkope in Maart.
Ander Toyota-uitblinkers was Fortuner op 1 274 en Quantum waarvan 1 540 eenhede nuwe tuistes gevind het. Interessant, egter, dat RAV (463) swakker gevaar het as Volkswagen se Tiguan (525).
Van Volkswagen gepraat – die tweede plek onder die Toptien behoort steeds aan die mense van Uitenhage met 'n totaal van 7 541. Dis veral VW se passasiermotors wat die syfers goed laat lyk met Polo Vivo op 2 736 verkope, gevolg deur die nuwe Polo op 2 121. Die Groep se Audi-afdeling het self redelik gevaar met 782 eenhede wat verkoop is – maar dis net sowat 11 % van die VW-groep se totaal.
Wenkbroue sal ook gelig word deur Amarok se swak vertoning (176) wat tot gevolg gehad het dat dit selfs deur die Mahindra Pik Up (196) en die Hyundai H100-bakkie (285) oortref is.
Ford bly in die derde algehele plek met 'n taamlike goeie totaal van 5 595 waarvan Ranger vir 2 753 verkope gesorg het, gevolg deur goeie vertonings deur EcoSport (813), Everest (559) en Fiesta (477) verkope.
Selfs Kuga keer stadig maar seker terug met 119 eenhede wat verkoop is.
Nog 'n Pretoria-gebaseerde invoerder en vervaardiger Nissan, bly stewig in die vierde plek met sy totaal van 5 410 voertuie - net 'n kortkoppie agter Ford. Nissan se sterre is NP200 (1 562), Datsun GO (619) en Navara wat skielik na vore gekom het met 447 eenhede wat nuwe tuistes gevind het. Die immer-gewilde Qashqai (489) en X-Trail (444) speel ook 'n groot rol in Nissan se suksesgetalle.
Die eerste Koreaan onder die toptien - Hyundai - staan stewig in vyfde plek danksy sy Grand i10 (1 032), i10 (516) verkope en Creta waarvan 413 eenhede verkoop is.
Mercedes-Benz (2 379) bly steeds in die sesde plek, maar maak nie individuele modelverkope bekend nie, teenoor Renault wat in die sewende plek is met 1 904 totale verkope veral danksy Kwid (856), Clio IV (442) en Sandero II met 294 verkope.
Die agtste plek het 'n verrassing opgelewer met BMW (1 713) wat twee plekke opgeskuif het danksy goeie vertonings deur sy 3-Reeks (506), X1 met 224 en X5 met 171 verkope. Na verwagting sal die onlangse bekendstelling van die puik nuwe X2, BMW se posisie nog verder verbeter.
Isuzu (negende) bly steeds onder die toptien met 1 581 verkope, maar het eintlik net een perd in sy stal, naamlik KB, terwyl die verbintenis met Opel darem gesorg het vir 255 addisionele verkope.
Nog 'n Koreaanse maatskappy Kia, bly gemaklik in die tiende plek met 'n totaal van 1 517 verkope – gerugsteun deur Picanto (789), Rio op 355 en Sportage met 181 verkope.
Onder die invoerders buite die toptien, het Porsche beïndruk met uitstekende verkope van 141, Jaguar met 649, veral danksy die belowende nuwe E-Pace (136) – en Range Rover Sport waarvan 147 eenhede verkoop is. Die Jaguar-totaal van 147 is steeds beter as Lexus wat 101 verkope aangeteken het.
Volvo Cars, met 'n beskeie 143 verkope, behoort beter te vaar, gegewe hierdie Sweedse vervaardiger se gehalte. 'n Voorbeeld hiervan is die skitterende nuwe CX40 wat einde van 2017 internasionaal bekend gestel is, maar wat sonder flitsende ligte en balonne stil-stil hier aangekom het.
Mazda (1 246) verdien ook spesiale vermelding, danksy vertonings deur CX-5 (378) en CX-3 (349) se verkope. Selfs die onderskatte BT-50 bakkie neig na drie syfers met 98 verkope in Maart.
Soos verwag kan word, het voornemende kopers van ultra-luukse voertuie ook vroeg voor die nuwe belastinglas laat waai met 8 Bentleys, 11 Ferrari's en 10 Maserati's.
Intussen word naels bekommerd gekou deur handelaars wat wag op die impak van al die belastingverhogings en die uitwerking van die vakansiedae in April.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'