MOTORING NEWS - Ricardo Coetzee van Virseker en Christo van Loggerenberg, hoofinstrukteur by die Land Rover Experience Centre, bied die volgende goue reëls vir veldrit-entoesiaste:
• Veiligheid eerste
Maak seker dat jou voertuig goed onderhou word. Moenie 'n oorambisieuse roete aanpak nie.
• Ken jou voertuig
Maak seker jy is goed vertroud met sy vermoëns en beperkings.
• Spoedslim
Die sleutel is "so stadig as moontlik, so vinnig soos nodig", wat impliseer dat 'n mens net so vinnig moet beweeg soos wat absoluut nodig is om 'n hindernis te oorkom, maar eerder stadig en berekend moet beweeg indien moontlik.
• Gebalanseerde vrag
Maak seker dat jou voertuig nie oorlaai is nie. Een brandstofkan uit plek kan jou voertuig se balans affekteer.
• Bybehore
Kies bybehore wat jou voertuig sal help om sy taak optimaal te verrig. Belê in goeie veiligheidstoerusting vir enige noodgeval. Kies die regte bande vir die tipe terrein. Kies voor- en agterbuffers of bosbrekers, sowel as glyplate, wat jou voertuig beskerm, maar steeds die nodige grondvryhoogte bied. Hou 'n gereedskap- en onderdelestel byderhand vir basiese voertuig- en bandherstelwerk, asook 'n kompressor.
Belê in 'n goeie hoogligdomkrag, traksieplate en selfs 'n wenas om jou uit moeilike situasies te kry. Belê ook in energie-doeltreffende elektriese stelsels om jou omgewing te verlig en maak seker dat jy 'n goeie stel laaikabels handig byderhand het.
Diep water
Een van die mees gewilde bybehore is 'n verhoogde luginlaatpyp, waarna gereeld as 'n "snorkel" verwys word. In teenstelling met die oortuiging dat dié tipe luginlaatpyp 'n voertuig in staat stel om in dieper water te kan ry, is dit eintlik ontwerp vir stowwerige toestande, waar daar minder stof op 'n hoër asemhalingspunt is.
Volgens Van Loggerenberg word die watertrotseringsvermoë (wading specification) van 'n voertuig deur ver meer as net die luginlaatpyp bepaal:
"Ons moet ook dinge soos elektroniese toestelle, ewenaar- en ratkas asemhalingstoestelle, alternators, water toegangspunte ens. in ag neem.
Indien selfs net een van hierdie faktore oorgeslaan word in die voorbereiding van jou voertuig vir dieper water, kan dit ernstige skade veroorsaak."
Photo: Nicholas Cool - Unsplash
Drie groepe van drie
Bestuurders is dikwels oorweldig deur die hoeveelheid groot aantal reëls om te onthou. Van Loggerenberg het die belangrikste wenke vereenvoudig tot wat hy die "3 groepe van 3" noem.
1ste groep van 3: Naderingshoek, oorbruggingshoek, vertrekhoek
Dit verwys na of jou voertuig aan die bou- en verrigtingsvereistes voldoen om dit tot in, en deur, 'n hindernis te maak.
2de groep van 3: Verkenning, risiko-assessering, verantwoordelikheid
Verkenning of inspeksie van jou beplande roete is van kritieke belang. Jy moet seker wees dat jou voertuig ook dit wat aan die ánder kant van 'n hindernis is kan hanteer. Daar mag byvoorbeeld 'n diep poel water aan die ander kant van die heuwel wat jy aanpak wees – een waaruit jou voertuig dalk nie kan kom nie.
Risiko-assessering sluit enige moontlike risiko vir jou, jou voertuig en die omgewing in, bv. gate, klippe, bome, hellings en die moontlikheid om te gly of om te val. Die pad wat jy kies mag dalk teen 'n helling wees wat jou voertuig kan hanteer, maar 'n rots wat in die pad is mag jou voertuig dalk verby sy kantelpunt dryf. Verantwoordelikheid hou verband met hoe jy reageer op jou assessering hierbo. As daar 'n risiko is vir enige iemand om seer te kry, enige iets om beskadig te word of vir die omgewing om skade te ly, soek eerder 'n veiliger roete.
3de groep van 3: Stelsels en ratte, stuur, pedale
Stelsels en ratte. Dit is noodsaaklik om die meganiese en elektroniese hulpmiddels tot jou beskikking vir 'n spesifieke uitdaging in te span. Dit behels om te besluit watter stelsels - soos afdraandbeheer, terreinreaksie, dinamiese stabiliteitsbeheer, ewenaarslotte, hoë- of laestrek ratverstellings ens. – aan- of afgeskakel moet word.
Stuur.
Dis van kritieke belang om 'n lyn van stuur te kies wat jou die beste kans gee om 'n spesifieke hindernis te oorkom. Hê ook 'n plan B, ingeval jou oorspronklike lyn nie die gewenste resultate oplewer nie.
Pedale.
Dis baie belangrik om die gebruik van pedale – veral die versneller en rem – te balanseer om presies die regte hoeveelheid krag en wringkrag, sowel as presies die regte hoeveelheid remkrag, toe te pas waar nodig. Selfs al doen moderne voertuie meeste van die werk, is dit noodsaaklik om hierdie vaardighede in te skerp, omdat 'n fout tot 'n ramp kan lei.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'