Birmingham Small Arms Company (BSA)
Die Birmingham Small Arms Company (BSA), gestig deur 14 wapensmede - het motors, vuurwapens en ander militêre toerusting vervaardig voordat hulle in 1909 uitgebrei het na motorfietsvervaardiging.
Tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorlog het hierdie maatskappy net toerusting en goedere wat gepas is vir die weermag vervaardig, maar toe die Tweede Wêreldoorlog ten einde geloop het, kon BSA sy fokus laat terugkeer na motorfietse vir die publiek.
In 1951 het die maatskappy 'n ander Engelse motorfietsmaatskappy, Triumph Motorcycles, gekoop, wat BSA in die benydenswaardige posisie as grootste motorfietsvervaardiger ter wêreld geplaas het.
Duitse maatskappy NSU
Die Duitse maatskappy NSU was die volgende een wat die nommer-een-plek in die motorfietsmark behaal het. NSU is in 1884 gestig en het tot 1892 net breimasjiene vervaardig, toe hul hoof inkomste uit fietsvervaardiging begin kom het. Hul eerste sukses op die gebied van motorfietse het in die Tweede Wêreldoorlog gekom, toe hulle begin het om die halfrusperbandvoertuig Kettenkrad NSU HK101 vir gebruik in die oorlog te produseer.
In 1955 was NSU reeds die grootste motorfietsvervaardiger ter wêreld. Besonder beroemd was die NSU-Max, 'n 250 cm³-masjien met unieke dubbele dryfstang aandrywing.
Vir die kleiner man was daar ook die NSU-Quick (100 cm³, met pedaalaandrywing - help-my-trap), Pony (ook 100 cm³, met voetruste), die Moped NSU-Quickly en die NSU-Lambretta, vervaardig onder lisensie van die Italiaanse Lambretta-bromponievervaardigers. Verdere modelle het die Fox (98 cm³-vierslagmotor en 125 cm³-tweeslagmotor), die Lux (200 cm³), die voorganger van die Max, die 250 OSL asook 'n 350 cm³-masjien, die Konsul ingesluit.
NSU op die renbaan
NSU-Motorfietse was op talle renbane te vinde en het wêreldrekords opgestel. Die tweestryd tussen Heiner Fleischmann (NSU) en Georg "Schorsch" Meier (BMW) het in die naoorlogse tyd motorfietsrengeskiedenis geskryf, so ook Wilhelm Herz, Werner Haas (wat in 1954 verongeluk het), Rupert Hollaus en die syspan-span Böhm-Fuchs. Die 1950 inskrywing van die Thouret-Damentrios met Ilse Thouret en haar dogters Elga en Anneliese met NSU-Lambrettas in nasionale tyd-renne het ook 'n sterk reklame effek gehad.
Motorfietsproduksie eindig egter tog met die eb in die motorfietsgety in 1965, die vervaardiging van fietse eindig in die middel van die sestiger jare.
Daarna het hulle net op motorfietse gekonsentreer, alhoewel hul produkte gevarieer het van klein kragtrapfietse soos die NSU Quickly tot renmotorfietse en selfs 'n burgerlike veldweergawe van die Kettenkrad. Die NSU Quickly het die NSU se grootste verkoper tussen 1953 en 1966 geword, met meer as 'n miljoen modelle wat vervaardig is.

NSU Quick word geadverteer as die ideale motorfiets.
ARTIKEL: EMSIE MARTIN