MOTORNUUS - Graaff-Reinet se alombekende lykswa, ambulans en besigheidsbakkie, 'n 1966 Chevrolet C10, 6 silinder "straight 6" 4.1 L, leef voort in al sy glorie.
Die bakkie is 53-jaar gelede splinternuut vir net meer as R450 deur oom Tiens Germeshuizen (nou 90), gekoop. Die Chev het daarna naam gemaak as die familiebesigheid, Germeshuizen Begrafnisdienste, se lykswa tot ongeveer 2008.
Baie staaltjies kan oor die voertuig vertel word, sê die trotse eienaar, Johan, oom Tiens se seun.
'n Lykswa as ambulans by sportbyeenkomste? Dit was nie net 'n doring in die vlees vir rugbyspelers nie, maar 'n aanmoediging om tot die einde te speel, met seer en al.
Johan sê die bakkie het plekke gery waar die polisie nie kon ry met hulle viertrekvoertuie nie, "asook paaie waar 'n bobbejaan 'n kierie sou nodig hê om te loop."
Kyk 'n video hieronder.
Met die afstandmeterlesing op 394 564 myl - ja, nog in myle afgemerk en gemeet - loop sy nog sterk en lyk nog splinternuut.
Die rathefboom sit aan die regterkant van die stuurkolom. Slegs drie ratte vorentoe en trurat. Die flikkerligte se korthefboom sit aan die regterkant van die stuurkolom.
Lank gelede... toe die bakkie nog 'n lykswa was en soms ook diens gedoen het as ambulans.
Die dompskakelaar vir die ligte sit nog op die vloer en word met die voet beheer. Op die paneelbord wys dit met rooi letters 'Bright'. Die asbakkie is ook duidelik gemerk 'Ashtray'.
Die oorspronklike sleutel, met sy unieke nommer asook die brandstofpropsleutel - gemerk 'Gas'- word nog daagliks gebruik.
Johan Germezhuizen het in die 1966 Chev-bakkie leer bestuur.
As die bakkie kon praat, sou sy staaltjies vertel van Windhoek, Zimbabwe, Kaapstad en byna die ganse Suid-Afrika. 'n Roetekaart is op datum gehou wat aandui waar al die besigheid se voertuie oral was. Drie grootmense kan met gemak voor sit.
Die bakkie was oorspronklik groen met 'n staalkappie, maar is wit gespuitverf vir die besigheid, vandaar die naam Ambulans.
Johan het in die ikoniese Chev leer bestuur. "Met die sluit van die besigheid het ek gesê dat ek graag die Chev wou hê. Ek het die bakkie sover ek kon oorspronklik gehou en kan opreg sê dat sy nog 99% outentiek is.
"Die oorspronklike kleur, fern green, het ek binne die enjinkompartement opgetel en ons kon die kleur weer meng."
Johan sê die bakkie trek baie aandag, en het al troues, matriekafskeidfunksies en 'n paar klassieke motorskoue bygewoon.
''Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'