Die Suzuki Vitara 1.6 GL+ was ook 'n wenner. Suzuki het elke kategorie gewen waarvoor die maatskappy oorweeg is in 'n verbruikerstoekenning.
MOTOR NUUS - Japan se gunsteling stadsmotor-vervaardiger het twee toekennings van CAR Magazine ontvang in dié tydskrif se dosyn beste motors ofte wel "Top 12 Best Buys".
Hierdie toekennings sal nou langs die ewe indrukwekkende toekennings van die WesBank en Cars.co.za se verbruikerstoekennings wat in Januarie vanjaar uitgedeel is in die trofeekas pronk.
Die tydskrif het sy toekennings bekend gemaak tydens 'n gala-geleentheid in Johannesburg in Februarie. Die geleentheid was ook CAR Magazine se 60e verjaarsdag en die posisie as grootste motortydskrif in Suid-Afrika is gevier.
Suzuki se verteenwoordigers is na die verhoog geroep om die toekenning as "Handelsmerk om dop te hou in 2017" te ontvang. Dit is deur CAR Magazine se paneel van beoordelaars toegeken na oorweging van Suzuki se geskiedenis in Suid-Afrika en sy toekomsplanne.
"Ons is baie trots op die toekennings wat ons die afgelope twee maande ontvang het," sê André Venter, afdelingshoof vir verkope en bemarking by Suzuki Auto Suid-Afrika. "Die toekennings is 'n welkome openbare erkenning van ons harde werk in die laaste paar jaar om ons kliëntediens, produkreeks en voertuigpryse op te knap."
Naas die algehele toekennings, het die Suzuki Celerio 1.0 GA die prys ontvang as die tydskrif se beste intreevlakmotor. Hierdie kate-gorie is een van slegs twee kategorieë waar spesifieke modelle teen mekaar opgeweeg word. Hier het Celerio twee ander finaliste uitgestof.
Die Celerio, in GL-spesifikasievlak, het ook die prys as Beste Intreevlakmotor in die WesBank en Cars.co.za se verbruikerstoekennings ontvang. In die produk-kategorieë van hierdie wedstryd word die punte van professionele joernaliste, 'n groep populêre beoordelaars en die terugvoer van duisende eienaars saam oorweeg. Eienaars se terugvoer is per vraelys tussen September 2015 en Oktober 2016 ingesamel.
Tydens die WesBank en Cars.co.za se verbruikerstoekennings het die Suzuki Vitara 1.6 GL+ in sy kleinboet se voetspore gevolg deur die kompakte familievoertuig-kategorie ook te wen. Suzuki het dus elke kategorie gewen waarvoor die maatskappy oorweeg is.
"Die erkenning wat ons met hierdie twee toekennings ontvang het sal die pas aangee vir 'n besige 2017, waar Suzuki selfs harder gaan werk aan sy kliëntediens, die verdere opknapping van sy handelaarnetwerk en die uitbreiding van die produkreeks," het Venter gesê.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'