Omnicomm, die Russiese maatskappy wie se intelligente brandstofsensors in die vermaarde Kamaz-vragmotors gebruik word, het hul visier op Suid-Afrika ingestel.
“Tegnologie-oordrag na medelede van die Brics-handelslande is vir ons 'n belangrike strategiese besluit,” sê Yury Panikov, Omnicomm se uitvoerbestuurder wat 'n kundige op die gebied van brandstofbestuur is. Hy werk in Moskou vir dié maatskappy wat 65% van die spesialismark in Rusland beheer.
“Peperduur dieselpryse beteken almal wil brandstof bespaar. Daar is talle taktieke hiervoor.” Panikov meen egter slim GPS-gebaseerde verslae is die regte antwoord vir Suid-Afrika. Hy baseer sy mening op die groot afstande, uiterstes van klimaat en probleme met brandstof-bedrog.
“Effektiewe sensors in die vragmotors se tenk kommunikeer die status en alle brandstof-verwante voorvalle – enige tyd en waar die voertuig ookal is. Bestuurslui hoef nie langer te wag vir voertuie om na die depot terug te keer nie en kan dit direk monitor. Brandstofvermorsing wat deur nalatige bestuur of skelmstreke veroorsaak word, kan dus geïdentifiseer word.”
“Danksy die intensiewe toetsing van die instrument in uiterste toestande, kon ons tegnologie vir die vragmotorvloot se daaglikse roetine ontwikkel,” sê Panikov. “Die hipermoderne tegnologie is in motorsport soos die Dakar getoets en bewys waar die ongelyk terrein en hoë temperature die voertuie en bestuurders tot die uiterste beproef.”
Vir die beste werkverrigting is dit belangrik om enige oortollige gewig uit te skakel. Brandstofbestuur is self 'n groot faktor omdat elke 100 liter ongebruikte brandstof sowat 83 kg ekstra weeg. Dit is egter net so belangrik om brandstof nie te oorskat nie. In die Dakar-tydren van 2005 was die nuwe tegnologie nog nie beskikbaar nie. Kamaz moes met 'n agttiende plek tevrede wees omdat die span 50 km van die eindpunt sonder brandstof gaan staan het. “Van die vele dinge wat in 'n tydren kan skeefloop, is 'n leë brandstoftenk só frustrerend dat dit ander probleme na kinderspeletjies laat lyk,” sê Panikov. “In 2005 was die ruwe terrein en sagte sand die redes vir hoër brandstofverbruik wat die konvensionele meters verwar het. Dit het verkeerde berekeninge beteken wat 'n hoë prys geëis het.”
Nadat die lesse geleer is, het Kamaz met Omnicomm begin saamwerk en 'n oplossing gevind met sensors wat brandstofvlakke en verbruik meer as 99% akkuraat bereken. Dit word nie deur vibrasie beïnvloed nie en die inhoud van die tenk word in die kajuit gewys en ook per GPS na die basis gestuur. In 2013 het Kamaz al die podiumplekke verower.
Vir ruwe toestande soos die mynbou en siviele ingenieurswerk, is die operasionele gebied dikwels soos dié van 'n tydren. Vragmotors werk alle ure op ongelyk oppervlakke, wat die konvensionele brandstofmeter kan verwar. Die oplossings wat saam met Kamaz gevind is, kan direk na die werkplek oorgedra word en sensors is reeds suksesvol vir mynbou en bouwerk aangepas.
Toestande op die N3-snelweg tussen Durban en Johannesburg kan dalk minder gevaar inhou as die sandduine van Suid-Amerika, maar daar is steeds ooreenkomste op kleiner skaal. “Vaste afleweringstye, bestuurders wat lang ure werk en die uitdaging om brandstofverbruik te meet en te bestuur, beteken die tegnologie wat op Kamaz-vragmotors gebruik is, is net so toepaslik,” het Panikov afgesluit.
Omnicomm se bydrae tot Kamaz se sukses met Vladimir “The Czar” Chagin kan gesien word by http://www.youtube.com/watch?v=LkJt8oiqXeY of hul webwerf www.omnicomm.co.za.
.jpg)
Die geheim van suksesvolle brandstofbestuur, soos wat die vragmotorwenners van die Dakar-tydren gebruik, kom nou Suid-Afrika toe.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'