Renne wil 'wettig rook' in George

Glen Leonie se Nissan-bakkie is toegerus met 'n 13B-roto enjin wat die kwartmyl in net 10,4 sekondes kafdraf. Leonie is 'n blitsige jaer en neem dikwels by ander byeenkomste in die streek deel.

GEORGE NUUS - Janis Parker van George het besluit... genoeg is genoeg en dis nou of nooit - sy wil sien dat George sy eie wettige versnelrenbaan kry.

Parker het 'n petisie op sosiale media begin waar die publiek van George gevra word om hulle handtekening te gee vir die totstandkoming van so 'n versnelrenbaan. 

Parker het die raadslid vir gemeenskapveiligheid, Cecil Noble, eers genader om sy mening oor haar projek te kry. 

Raadslid Noble het toe gereël dat Parker en haar komitee 'n voorlegging aan die burgemeesterskomitee voorlê.

As 'n volgende stap, het sowat dertig geesdriftige deelnemers aan die sport met hulle motors by die skouterrein saamgetrek en die publiek is genooi om die petisie te kom onderteken.

Noble en George se verkeers-hoof, Donovan Saptoe, het die omstanders te woord gestaan. 

Albei het onderneem om die projek te steun waar hul kan. Hulle hoop dat dit moontlik sal wees dat die "petrolkoppe" op 'n veilige manier hulle sport sal kan beoefen.

Trots staan die opgeboude motors uitgestal.

Noble het ook tong in die kies genoem, dat George se verkeersafdeling wel sy 1400 diesel Polo's sal moet opgradeer na GTi's - nadat hy gesien het watse voertuie op die gras gespog het.

Parker en van haar ondersteuners en bestuurders het einde Oktober 'n vergadering met George se burgemeester, Melvin Naik, asook die burgemeesterskomitee gehad.

Die vergadering het in goeie gees plaasgevind en 'n geskeduleerde vyftien minute het heelwat langer geneem met Parker en haar span wat 'n oortuigende voorlegging gemaak het. 

Hulle het verduidelik hoekom 'n versnelrenbaan verlang word en moontlike terreine is uitgewys. 

Die petisie vir n wettige versnelrenbaan in George word gretig deur die omstanders onderteken.

Die veiligheidstandaarde is neergelê, asook hul doel met die renbaan. 

Die vergadering is ten slotte gevra om die voorstel gunstig te oorweeg.

Die George-munisipaliteit het onderneem om die aangeleentheid met die volgende raadsvergadering te opper, waarna terugvoer aan Parker gegee sal word.

Daar is sedert 20 September reeds sowat 627 handtekeninge op die petisie aangebring. 

Die publiek word gevra om die versoek te ondersteun sodat onwettige straatrenne in George en omliggende dorpe se strate gestop kan word en hulle dit op 'n georganiseerde en wettige manier kan doen.

In Graaff-Reinet werk die owerheid en jaers 'n geruime tyd reeds saam. Die hoofstraat word gesluit vir die sport en goeie toeskouerbeheer word ingestel. 

Die aande kry groot aftrek en plaaslike rengeesdriftiges ry soontoe om deel te neem.

Vir navrae of om hulp met die projek aan te bied, kontak asseblief vir Janis Parker by 072 631 3952. 

ARTIKEL & FOTO'S: FRANCOIS GERMISHUYS

'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'


Your comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a George Herald