MOTORNUUS - Die tweede been van die SWD Kampioenskappe op die Arnold de Jager-renbaan buite Oudtshoorn is Saterdag 14 Maart afgehandel, maar as gevolg van die coronavirus wat nou behoorlik in Suid-Afrika spook, is alle ovaalbaanwedrenne wat onder Motorsport SA se beheer plaasvind, vir eers gestop. Die Oudtshoorn byeenkoms was tot tyd en wyl die laaste in die SWD. Hou CarMag dop vir die nuwe wedrendatums vir 2020. Sien nog foto's en lees die wedrenverslag deur Francois Germishuys op bladsy 6.
Sowat 60 renmotors het in agt klasse in Oudtshoorn opgedaag om wedrenne van hoë gehalte tydens die tweede been van die SWD Ovaalbaan-kampioenskappe te bied.
Sommer in al die klasse was die gort gaar. In die ontwikkelingsklas vir beginners was Cornel Nortje, een van die gunstelinge, ongelukkig om hard met die veiligheidsmuur kennis te maak. Nortje was ongedeerd maar dieselfde kon nie van sy Golf gesê word nie. Pa het probeer herstel, maar hy kon nie die finaal klaar maak nie. Die klas is deur Jacques Lootds van Worcester met sy VW Golf gewen.
Henties de Villiers van Oudtshoorn het die 2.1-klas maklik gewen in sy vinnige Opel Corsa.
In die 1660-klas was dit ook oorlog tussen die vinnigste 1660's in die Suid-Kaap. Die kompetisie was so erg dat jy nie kon raai wie 'n wedren sou wen nie. Ongelukkig het een van die gunstelinge, Juan van Rensburg, na kontak met `n ander deelnemer , hard met die muur kennis gemaak. Sy aand was verby. Die klas is gewen deur Andre Fouche met sy bekende blou VW Polo.
Die hotrod- en 2.1-klasse het net soveel drama opgelewer. Albei Ford Fiestas wat uit die Kaap opgekom het, is met skade terug. Nickey Koegelenberg se Fiesta se mond was bietjie seer na 'n onderonsie met die muur.
Lee Cox van Port Eizabeth se aand was ook van korte duur toe sy splinternuwe Opel Tigra ook teen die muur gebots het wat sy voorste suspensie vernietig het. Henties de Villiers het weer gekook in sy Opel Corsa en die 2.1-klas syne gemaak. Clive Meyer het die hotrod-klas gewen met sy VW Golf, met Rietha Oosthuizen kort op sy hakke in haar VW Polo.
Bennie de Bruyn, een van die gunstelinge in die Sprintkar-klas, moes ook vroeg die handdoek ingooi na sy agterwiel uitgeval het.
Die Heavy Metal-klas is totaal oorheers deur Francois Smit van Worcester in sy BMW. Vir die eerste keer in my lewe het ek in 'n wedren van 10 rondes op 'n plaaslike baan gesien hoe 'n jaer, wat 'n hele ronde voor is, verby die ander manne wat dit uitspook vir die derde plek, verbyjaag. 'n Oordonderende wen.
Albert Olivier het die gemodifiseerde V8-klas ook omtrent totaal oorheers met sy Chev flexi, en die klas redelik maklik gewen. Elke keer as Olivier 'n motor verby gaan was die toeskouers op hulle voete.
Die oopwiel-klasse het vir net soveel drama gesorg. In die Cross Cart-klas was dit weereens Antony Oudtshoorn wat vir die ander renjaers in sy klas gewys het hoe om 'n klas met styl te wen.
In die Sprint Car-klas - pypkarre met MONSTER V8-enjins in - het Kenny Gouws gewys hoe die pad wenpaal toe loop. Een van die gunstelinge in die klas, Bennie de Bruyn moes die handdoek ingooi toe sy agterwiel teen hoë spoed losgekom het. Daar was te veel skade met te min onderdele om die aand te voltooi.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'