GEORGE NUUS - Sowat agt jaar gelede het Total Suid-Afrika hul borgskap van 35 jaar aan die jaarlikse Total-besparingsrit onttrek. Ek het die voorreg gehad om aan al 35 byeenkomste deel te neem. Sedertdien was daar geen nasionale besparingsrit nie, totdat Wesbank en FNB vanjaar as nuwe borge toegetree het.
Die formaat het ietwat verander om 'n meer realistiese verbruiksyfer te kan weergee vir Jan Alleman wat vakansies met sy gesin op die hoofpaaie ry. Gemiddelde snelhede was dus realisties en binne die snelheidsbeperkinge op die hoofpaaie.
Die byeenkoms het op 12 November in Johannesburg by FNB se hoofkantoor langs die N1 begin en die eerste dag het in Durban geëindig en met die baie afdraandes en met die wind van agter, was die eerste dag se brandstofver-bruikssyfers baie goed. Dag twee van Durban na Oos Londen het die berugte Transkei se dorpe, Mtata en Mt Frerre, die deelnemers baie tyd gekos. Die derde dag tot in Port Elizabeth was soos die ander dae, gehul in pragtige Oos-Kaapse natuurskoon.
Op pad na Port Elizabeth het die deelnemers die voorreg gehad om een rondte om die legendariese Oos-Londense Grand Prix renbaan te ry.
Van Port Elizabeth na George was die roete meestal op die N2 met hier en daar 'n afdraai om die pragtige suiwelplase en aangeplante weiding te waardeer.
Willie Nel en sy seun en my seun William saam met die gasvrouens van FNB en Wesbank.
Die laaste dag tot in die Kaap het ons met heelparty verleggings naby Caledon te doen gekry, maar die pragtige kusroete van Hermanus het opgemaak vir die frustrasies van die verleggings. Die toer is die aand afsluit met 'n prysuitdelingsfunsie op die 28e vloer van FNB se indrukwekkende hoofkantoor naby die Waterfront.
Groot was die vreugde toe aangekondig is dat Suzuki ses van sy sewe klasse gewen het, asook die beste prestasie behaal het vir die top drie petrolaangedrewe motors. Renault het met die algehele prys vir die beste drie voertuie weggestap, waarvan twee van die drie dieselmodelle was.
Tydens die funksie het FNB en Wesbank hulle vir die volgende paar jaar tot die byeenkoms verbind. Die besparingsrit was nie sonder sy tandekryprobleme nie, maar na die eerste jaar se ondervinding kan ons uitsien na 'n nog beter byeenkoms in 2020.
Dankie aan die borge, organiseerders, en Suzuki wat vir my die Vitara GLX Turbo geleen het vir die byeenkoms. Die nuwe 1,4 liter turbo enjin in die Vitara is die beste van twee wêrelde. Baie krag, maar ook suinige petrolverbruik.
Willie Nel het vir dekades sy merk as renjaer gemaak en gryp steeds enige "ryge-leent-heid" met albei hande (en wiele) aan.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'