MOTOR NUUS - Verlede Saterdag en Sondag is die negende Jaguar Simola-heuwelren op Knysna aangebied. Die formaat was dat jy moet probeer om met jou motor of bakkie, ja daar was 'n Ford Ranger bakkie in die hande van Peter Lindenberg, so vinnig as moontlik die 1,9 km baan teen die heuwel kaf te draf.
Heelwat plaaslike deelnemers uit Suidkaapland het deelgeneem. Van dié wat die oog gevang het, was François Cowley, Knysna se vlieënde polisieman. Hh het in klas A3 deelgeneem met 'n Ford-aangedrewe BMW 3-reeks. Cowley het so in die omgewing van 55 sekondes geneem om die 1,9 km te voltooi.
Nog deelnemers van Knysna was die Bower-familie. Willem het met sy bekende Toyota Tazz deelgeneem in Klas B5 en Jacques was weer teenwoordig met sy bekende Ford Escort Mrk 11. Willem en Jacques het mekaar goed die stryd aangesê in dieselfde klas en die Escort het net-net gewen.
Tanya Watts van Knysna het soos in die verlede, die toeskouers op hulle voete gehad met haar blitsige Subaru WRX turbo. Sy het in klas B1 deelgeneem en het in die 1,9 km in sowat 56 sekondes afgelê.
George se topdeelnemers was die pa en seun-span van Nico en Julian van Rensburg. Nico het met sy vinnige en welbekende VW Scirocco mk1 gejaag en Julian het sy pa aangevat in die ewe bekende swart Hankook VW Golf.
Tanya Watts, Knysna se vlieënde vrou in haar geliefde Subaru WRX.
Die hele naweek was die gort gaar in klas B5 tussen pa en seun. Albei van hulle het in die kwalifiseringrondtes op die baan getol, maar na die naweek se jaag het Julian sy pa, Nico, met 0,4 sekondes geklop.
Dit beteken twee George-deelnemers op die podium in die eerste en tweede plek, met Jacques Bower van Knysna derde met sy Escort. Die vierde plek in die klas was nog 'n Knysna-motor, dié van Willem Bower met sy Toyota Tazz.
Pa Nico van Rensburg van George looi sy Volkswagen Scirocco teen die heuwel uit.
Die Supermotorklas A7 het twee plaaslike inskrywings ingehad. Die blitsige en splinternuwe 570 S McLaren's van Ernst du Preez van Stilbaai en Oubaai se Jacques Wheeler. Die motors was splinternuut toe hulle in Knysna aangekom het. In dié klas was Du Preez tweede met 'n skittertyd van 46,2 sekondes - slegs 1,03 sekondes agter Dawie Olivier wat die klas gewen het in sy blitsige Jaguar F-TYPE koepee SVR. Jacques Wheeler kon slegs die sesde plek behaal in die klas, met Izak Spies van Johannesburg vyfde.
Knysna se blitsige polisieman, François Cowley.
Die drie Mclaren's het deurgedring na die "Top Ten Supercar Shootout" waar Spies 'n derde plek behaal het, Du Preez was vierde met Wheeler sesde.
Ons hoop ons sien almal weer by die 2019 - en tiende - Jaguar Simola Heuwelren.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'