Sonder om in elke besonderheid van die ontwikkeling van remme en bande te gaan kyk, kyk ons net kortliks na hierdie twee uiters belangrike komponente van 'n motorfiets.
Remme
Oor die algemeen word motorfietsremme individueel beheer (die agterrem en die voorrem is onder verskillende omstandighede doeltreffend), alhoewel motorfietse met gekoppelde remme in die verlede vervaardig is.
Die trommelrem was die algemeen gebruikte soort rem tot die 1960's, toe die skyfrem die verkose soort geword het om twee redes:
In die eerste plek was die skyfrem doeltreffender om 'n voortsnellende voertuig te stop - veral in nat omstandighede;
In die tweede plek was dit makliker om te onderhou.
Trommelremme kom soms ook by moderne motorfietse voor.
In 1988 het BMW motorremtegnologie op hul motorfietse aangebring toe hulle ABS (sluitweerremstelsel) ingevoer het by hul K100-reeks. Al die Japannese en party Italiaanse vervaardigers het daarna omgeskakel na ABS-stelsels vir bestuurderveiligheid.
Die remkrag van bv. die Honda Blackbird word verskaf deur massiewe 310mm-remskywe voor met driesuierknypers en 'n 256mm skyf agter. Met die ongelooflike spoed wat superfietse behaal is 'n uitstekende remstelsel beslis nodig.
Bande en wiele
Die vroeë motorfietsmodelle het baie eenvoudige wiele gehad gebaseer op die voorbeeld van die fiets, met individueel vervaardigde speke. Deesdae is enkel-komponentwiele meer algemeen, en word dit vervaardig van aluminium met staalspeke.
Verskillende soorte bande is beskikbaar, afhangende van die gebruik van die motorfiets: Dié wat bedoel is vir langafstandreise gebruik duursame rubber met min houvas, terwyl dié wat vir spoed bedoel is (in wedrenne) 'n voortreflike houvas het, maar nie so lank hou nie.
Tegnologie het dit vir vervaardigers moontlik gemaak om 'n middeweg tussen hierdie twee pole te vind, vir die veiligheid en gemak van die bestuurder.
In 1996 is die mees gevorderde verrigting-straallaagband vir motorfietse van Bridgestone beskikbaar gestel. Die Bridgestone Battlax is ideaal vir toerfietse, vinnige superfietse of produksie-renfietse. Dit is in groottes van 16, 17, 18 en 19 duim vir voor- en agterwiele beskikbaar.
Daar is twee graderings, die Z-gradering vir volgehoue snelhede van 240km/h en meer en die V-gradering wat geskik is vir snelhede tot 240km/h.
Die graderings, asook 'n wye keuse van rubbersamestellings, bied aan motorfietsryers 'n stewige keuse vir hul eie behoeftes.
'n Spesiale band, die Bridgestone Cyrox, is vir nat weer beskikbaar. Motorfietsvervaardigers soos Honda, Kawasaki, Suzuki en Yamaha gebruik almal die Battlax as oorspronklike toerusting, terwyl die Bridgestone Battlax ook in die Suid-Afrikaanse motorfietskampioenskap vir 600cc-produksiefietse gebruik word.

Moderne motorfiets agterwiel (bringatrailer.com).

1910 Harley-Davidson 6A. (myclassicmotorcycle.blogspot.com).

1928-1929 Harley-Davidson voorwiel met remme (caimag.com).
ARTIKEL: EMSIE MARTIN, GEORGE HERALD-JOERNALIS