MOTORNUUS - Ek was nie een van daardie gelukkige jongmense wat op 18 'n voertuig present gekry het nie. Sommige van my vriendinne het nog voor hulle hul rybewyse gekry het, reeds die belofte van 'n nuwe ryding vir hul verjaarsdag gehad.
Ek het my leerlinglisensie én my rybewys met die eerste probeerslag gekry.
Ek moes egter óf my vriendinne se voertuie bestuur, of soms het my ouers ingegee en kon ek hulle motor gebruik.
Dit was daarom spesiaal toe ek op die ouderdom van 21 jaar my eie voertuig - met my eie geld - kon koop.
'n Familielid, wat ek nie goed geken het nie, het vir ons 'n erfporsie gelos en ek onthou daardie jare was R21 000 nogal baie, vir al vir 'n 21-jarige student.
Ek het al my erfgeld gebruik om vir my 'n tweede- handse Volkswagen Citi Golf te koop. 'n Goue een, met 40 000 km op die klok.
Uit my eie sak
My 'golfie' soos ek haar genoem het, was 'n heerlike ryding.
Ek was baie trots daarop om my eie voertuig te kon koop en uit die aard van die saak moes ek nog aan 'n paaiement afbetaal, wat ek maandeliks gedoen het. My Citi Golf het my oral heen gevat.
Ek was saam met vriendinne weg na die Natalse kus vir vakansie en ons het plek gemáák vir almal se bagasie. Sy het heerlik gery en ek het altyd op pad werk toe musiek geluister terwyl ek die venster groot oopdraai.
My Golf het nie elektriese vensters gehad nie, maar dit het my min gepla om die vensters met die handvatsels af te draai.
Ek het haar gereeld laat was en my eerste kind was al gebore toe ry ek steeds my Golf.
Met 'n baba en alles wat daarmee saamgaan, het die voertuig vir my te klein geword en na sewe jaar het ek haar ingeruil vir 'n groter ryding.
Ek sal altyd met 'n glimlag terugdink aan my eerste voertuig. Ek het dit waardeer en geniet, juis omdat ek dit self gekoop en afbetaal het. Onthou jy nog jou eerste voertuig?
Louise Karsten dink met trots en aangename herinneringe terug aan haar eerste ryding, 'n goue Golf.
''Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'