MOTORNUUS - Talle Volkswagen Beetle-eienaars sal jou verhale vertel van die lae verf wat hul van hul spogmotors moes verwyder tydens jare van liefdevolle omskepping.
So 'n eienaar van 'n 1975 Volkswagen 1600S Beetle is Manie Smith van George. Sy Beetle-verhaal het begin toe hy sy pa oortuig het om van sy Datsun Pulsar ontslae te raak. In 2010 koop hulle vir R15 000 'n Beetle in Port Elizabeth.
In 2014, na sy pa se afsterwe het hy dié volla geërf. Die volgende jaar, in April 2015 het hy en sy vrou, Hendi en die kinders, meubels na hul woning gebring tydens 'n rit van 1 500km oor vyf dae vanaf KwaZulu-Natal na George.
"Met ongeveer 'n ton op die sleepwa het dit die gat van die beetle halfpad George toe afgeskeur. Ons moes ons 'n tou om die hak en deur die twee agterste vensters vastrek om ons in George te kry met die sleepwaentjie vol meubels," vertel Smith.
Met die Beetle se agterkant afgeruk besluit Smith toe om sommer die voertuig heeltemal te restoureer.
Travis voor sy "make over". Sy agterkant is beskadig en is met toue vasgemaak tydens die groot tog na George.
"Dit was ‘n ses jaar-projek waaraan ek self gewerk het. Soos elke stukkie-vir-stukkie aanmekaargesit is, het my trots en my liefde vir my Beetle gegroei."
Volgens Smith sou die eindproduk toffieappelrooi gewees het, maar hy het gevoel dat hy 'n buitengewone baadjie vir sy Beetle wou hê.
Die Beetle is drie verskillende lae geverf en Smith het met waterskuurpapier deur die lae geskuur vir die roesafwerking.
Strand toe.
"Na vele genot op die oop paaie het hy sy naam Travis the Travel Bug verdien," sê Smith. Die Beetle is ook veelsydig met 'n dakrak wat verskillende bykomstighede kan dra afhangende van die geleentheid. In Memory of Spinnekop, wat een van die plakkers is wat op sy Beetle pronk, is ter nagedagtenis aan sy pa se bynaam op skool.
"Nadat ons gesien het hoeveel genot die motortjie aan ander mense verskaf, het ek en my vrou in 2020 besluit om die George Air-Cooled-klub te stig. Ons het lede van George tot Mosselbaai."
Hulle kom gereeld bymekaar waarna hulle dan roetes reg oor die Tuinroete ry. Hulle vertoon ook gereeld hulle voertuie op skoue soos by die afgelope outismefees in Mosselbaai.
Belangstellendes kan gerus hul Facebookblad besoek.
Op vakansie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'