Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die omvang van die huidige brande aan die Tuinroete word groter geag as die brande wat verlede jaar in Knysna voorgekom het, het Helen Zille, die Wes-Kaapse premier, vroeër vandag gesê.
Zille het die gebied besoek en onder meer 'n besoek gebring aan die Gesamentlike Beheersentrum van die Garden Route-distriksmunisipaliteit en die ou Tolhuis aan die voet van die Outeniquaberge wat grotendeels verwoes is.
Verskeie burgemeesters en senior munisipale amptenare van omliggende dorpe was ook teenwoordig.
Volgens Zille is 22 000 ha plantegroei verlede jaar in die Knysna-gebied verwoes terwyl daar nou reeds 91 000 ha verwoes is. "Dis 'n groter ramp as Knysna as die geografiese gebied in aanmerking geneem word. Dit is vier keer groter oor 'n geografiese afstand," het Zille gesê.
Sy het haar meegevoel uitgespreek teenoor die naasbestaandes wat geliefdes in die brand verloor het.
Kyk video's hieronder.
Zille het gesê dit is 'n wonderwerk dat die hele gemeenskap by die Farleigh-bosboustasie nie hul lewens verloor het nie. Dit is die gevolg van mense wat saamwerk en as dinge gekoördineer word in die Gesamentlike Beheersentrum.
Zille het benadruk dat lesse geleer is uit die Knysna-brande verlede jaar.
Sy het verwys na uitdagings in die bekamping van die brande. Die plantegroei is dig, sommige plekke is afgeleë en mense moes ontruim word.
Sy het daarna die Tolhuis besoek. Daar het sy met die dryfkrag agter die restourasie van die Tolhuis, Gerda Stols gepraat. Stols het aan Zille foto’s gewys van hoe die Tolhuis gelyk het voor dit afgebrand het. Dit is vandag Stols se verjaarsdag.
Stols het aan die George Herald gesê dit is hartseer dat die Tolhuis afgebrand het.
Sy het bygevoeg: "Ek is vol verwagting dat die Tolhuis in my nuwe lewensjaar weer herbou gaan word."
* Teen 10:00 vanoggend was daar aktiewe brande in die volgende gebiede:
- Grootvadersbosch
- Heidelberg
- Garciapas in Hessequa
- Herbertsdale
- Die groter George-gebied wat ook insluit De Vlugt en Knysna
- Soetkraal
Kyk 'n video-onderhoud met Gerda Stols, die dryfkrag agter die restourasie van die ou Tolhuis, hieornder.
Helen Zille, Wes-Kaapse premier in gesprek met Gerda Stols, dryfkrag agter die restourasie van die ou Tolhuis. Foto: Eugene Gunning
Lees meer in Donderdag se George Herald, asook aanlyn.
Lees 'n verwante artikel: ZIlle in Tuinroete om na brande te kyk
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'