Update
HARTENBOS NUUS - Die ma van ‘n 9-jarige dogtertjie van Hartenbos is steeds rasend van bekommernis nadat haar eksman met hul kind verdwyn het.
Phia-Mari Marè (28) se kind, Yaleen, is op 14 Oktober deur haar pa, Jacob (34), by haar skool op Hartenbos opgetel.
Die twee het intussen spoorloos verdwyn en ‘n landswye soektog is tans deur die Suid-Afrikaanse polisiediens van stapel gestuur om Jacob en Yaleen op te spoor.
‘n Familielid van Phia-Mari het aan die Mossel Bay Advertiser gesê Phia word oorval met medianavrae en wil nie nog kommentaar lewer nie.
Maroela Media berig Phia-Mari het kort nadat Yaleen deur Jacob opgetel is, ‘n stemboodskap van haar dogter gekry.
Daarin sê Yaleen: “Hallo mamma, ek weet mamma worry dalk nou oor my. Ek is hierso by pappa. En moenie worry nie ek is veilig by hom. Ek weet nie hoe lank ek hier gaan bly nie, maar baai.”
Jacob is van Namibië afkomstig. Die egpaar en hul twee seuntjies en Yaleen het daar gewoon voor Phia-Mari na die Mosselbaai-omgewing verhuis het. Die egpaar is glo ongeveer twee en 'n half jaar geskei.
Die ouers was na wat verneem word in die proses om ‘n ouerskapplan op te stel aangesien die Namibiese hofbevel nie prakties uitgevoer kon word nie.
Volgens 'n bron het Phia-Mari op 16 September die laaste korrespondensie van Jacob se prokureur met betrekking tot dié plan ontvang.
Sy het aan Maroela Media gesê tot op daardie stadium het Jacob ná bewering geen insette aan sy prokureur gegee nie.
Yaleen het glo op die dag van haar verdwyning tennisoefening by die skool gehad en daarna skaak.
Phia-Mari het aan Maroela Media vertel sy het gery om Yaleen na die skaakoefening op te tel, maar sê haar kind was net weg.
Sy sê ‘n tennisjuffrou van die skool het aan haar bevestig dat Yaleen saam met haar pa by die skool weg is.
Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld en seksuele misdrywe doen ‘n beroep op inwoners om op die uitkyk vir die pa en kind te wees en te help om Yaleen op te spoor.
Enigeen met inligting kan die ondersoekbeampte in die saak, ao Alistair Rezant kontak by 082 234 3557.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’