Gallery
GEORGE NUUS - Charles Carelse, 'n bekende Pacaltsdorp-inwoner en boorling van George, wat diep spore in die gemeenskap getrap het, is skielik op Saterdag 22 Oktober in die ouderdom van 66 oorlede.
Carelse was tuis saam met sy suster, Susan Carelse, toe hy die middag ‘n hartaanval gehad het. Dieselfde oggend nog het hy ‘n gemoedelike aanlynkuiertjie saam met sy kinders en kleinkinders wat in Engeland en Kaapstad woon geniet.
Hy was vir 38 jaar in die onderwys waarvan hy die meerderheid van die tyd aan Heidedal Primêr verbonde was.
“Die huldeblyke op sosiale media na sy dood is ‘n bewys van die impak wat hy op honderde mense se lewens gehad het. Hy was ‘n mense-mens. Baie mense onthou hom as ‘n joviale man en sê as hulle aan hom dink, dan sien hulle ‘n glimlag,” sê sy een dogter, Suzaan Carelse.
“My pa het ‘n passie vir kinders en die onderwys gehad. Dit was nie net ‘n beroep vir hom nie. Hy was ook nie net vir óns ‘n pa nie, maar ook vir baie kinders wat deur sy hande is."
Die skool was sy trots en hy het graag in kontak met sy leerders gebly, want dit het hom trots gemaak om te sien dat hulle hul drome bereik.
FOTOGALERY: Wyle Charles Carelse
Keenan, sy seun uit Engeland, sê, “My pa het nie ‘n rolmodel gehad van wat ‘n pa moet wees nie aangesien hy sy pa op drie maande oud verloor het, maar die voorbeeld wat hy vir ons nagelaat het as ‘n pa, is van onskatbare waarde. Net soos hy ons altyd aangemoedig het om die beste te wees wat ons kan, het hy sy leerders dieselfde waardes geleer. Hy het jou as individu baie spesiaal laat voel en sou ‘n boemelaar met net soveel agting behandel as enigiemand anders wat oor sy pad gekom het."
Onder sy aansporing en leiding het vier leerders Heidedal Primêr op internasionale vlak verteenwoordig by die Globe-seminaar (Global learning and observation to benefit the environment). Die Baswa le Meetse-kultuurprojek, wat fokus op opvoeding van kinders en bewaring van water, was ook onder sy leiding. Hy was verder krieketskeidsregter, 'n rol waarin hy ook bekend was as ‘n man van integriteit. Na sy aftrede het hy aktief by skole betrokke gebly.
Volgens Suzaan het haar pa sy lewe geleef volgens die leuse, ‘Aspire to inspire before you expire’. Hy het mense hierdeur aangespoor en gemotiveer. "Dit was so eie aan hom."
Sy familie is hard geslaan deur die gevolge van die Groepsgebiedewet. Sy eie ervaring daarvan as 12-jarige seun op daardie stadium, en later as volwassene, het hy in gedigte en stories vir sy kleinkinders nagelaat. Maar hy het ook oor die goeie herinneringe van sy jeugjare geskryf.
Carelse het by sy oupa te Caledonstraat 13 gewoon na sy pa se dood en op daardie stadium het die eiendom gestrek van Caledonstraat af tot by die Camfersdriftrivier.
Keenan sê die eiendom was ‘n veilige baken in die lewens van die Pedro’s, sy ma se kant van die familie. “My pa het vertel toe hulle uit die dorp moes trek, het sy oupa – ons oupagrootjie – ‘n ernstige beroerte gehad, wat ‘n groot impak op die familie gehad het. Die familie is verskuif na grond in Pacaltsdorp, waar ons grootgeword het.”
Carelse het ná sy vrou, Kenau, se dood saam met sy suster in Pacaltsdorp bly woon.
Hy het ‘n groot liefde vir die natuur, bome en natuurfotografie gehad en was ‘n trustee by die Tuinroete Botaniese Tuine.
Hy laat vir Keenan, Suzaan, nog ‘n dogter, Monique Treu, sy suster Susan en drie kleinkinders, Amber, John-Charles en Caleb Phil agter.
Gedenk- en begrafnisdienste
‘n Gedenkdiens word op Woensdag 2 November om 13:00 in die Apostoliese Kerk in Borcherds gehou vir leerders, onderwysers, alumni en ouers.
Nog ‘n diens vir familie en vriende vind op Donderdag 3 November om 19:00 plaas in die St Albans Anglikaanse Kerk in Pacaltsdorp.
Op Saterdag 5 November om 09:30 is daar ‘n begrafnisdiens tuis en om 11:00 by die St Albanskerk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'