Gallery
GEORGE NUUS - Wanneer die wyksraadslid van Borcherds haar Streetwise two by 'n plaaslike hoenderhandelaar koop, dink sy aan die kinders van haar wyk.
"Daai R2 wat hulle vir welsyn vra gee ek nie vir KFC nie, ek hou dit vir julle," het Mercia Draghoender tydens 'n uitreikaksie verlede Woensdag by Heidedal Primêr gesê.
Draghoender en die wykskomiteelede het tydens hierdie geleentheid skryfbehoeftes, kolwyntjies en lekkernye aan al die graadeentjies uitgedeel. Pastoor Christo Alexander van die Faith and Trust Outreach Family Church in Borcherds het die kleintjies bemoedig met woorde van hoop.
Alexander is self 'n oudleerder van Heidedal en besit deesdae 'n bakkery in die gebied. Hy skenk gereeld gebak vir uitreikprogramme in die wyk.
"Daar is hoop, daar is 'n plan," het Alexander gesê. "Ek kom uit 'Die Gaatjie', of 'Vuil Borcherds', soos ons dit noem. Vandag ploeg ek terug, daar werk tien mense in my besigheid. Daar kan iets goeds uit Borcherds kom."
Alexander het skertsend gesê dat raadslid Draghoender sy 47ste verjaarsdag gekanselleer het, sodat hy die besoek aan die skool kon meemaak. Die kinders het daarvoor vergoed deur vir hom te sing.
Janine Fernold (voor), 'n bestuurder van die munisipale afdeling vir omgewingsdienste, het die kinders aangemoedig om alle tjips- en lekkergoedpapiere te versamel vir 'n herwinningsprojek. Saam met haar is 'n onderwyser van Heidedal, Dudley Schoeman. Foto's: Michelle Pienaar
Verteenwoordigers van die George-verkeersdepartement het met die kinders gesels oor padveiligheid en die leerders het 'n kans gehad om Daantjie Kat en sy vriendin te high five. Janine Fernold, 'n bestuurder van die munisipale afdeling vir omgewingsdienste, het die kinders aangemoedig om all tjips- en lekkergoedpapiere te versamel vir 'n herwinningsprojek.
Die plan is om 2 liter-plastiekbottels met hierdie rommel te vul en bankies te maak waarop die kinders tydens pouses op die speelterrein kan sit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'