GEORGE NUUS - Al ooit gedroom om 'n lewensredder te wees en so 'n bydrae tot die gemeenskap te lewer? Dan wil die Outeniqua Surf Life Saving Club van jou hoor. Die organisasie, wat verantwoordelik is vir die opleiding van lewensredders, gaan binnekort weer met hul jaarlikse program begin en nooi belangstellendes om betrokke te raak.
Richard Botha, opleidingsbeampte van die organisasie, bygestaan deur Freya Swanepoel, voorsitter van die Outeniqua Surf Life Saving Club het aan George Herald gesê die ledetal groei, maar nog lede is nodig.
Benewens opleiding en verskaffing van lewensredders aan instansies soos plaaslike owerhede is hulle ook betrokke by projekte van bewusmaking van waterveiligheid. Botha het benadruk dat almal vrywilligers is wat professionele dienste verskaf aan byvoorbeeld plaaslike owerhede, die gasvryheidsbedryf en selfs skole waar swemgeleenthede plaasvind.
Dit bestaan al meer as 10 jaar. Enige persoon wat belangstel en voldoen aan die nodige vereistes kan aansoek doen vir die opleidingskursus. Belangstellendes moet 15 jaar of ouer wees.
Die kursus is omvattend en behels onder meer onderrig in kennis van die see, riviere en swembaddens, reddingstegnieke (met en sonder toerusting), noodhulp, radiokommunikasie en 'n fisiese fiksheidsprogram. Dit is van 'n hoë standaard en word internasionaal erken.
Dit word deeltyds aangebied onder meer tydens naweke. Kursusgangers moet 'n teoretiese eksamen en fiksheidstoets slaag. Registrasievorms sal per e-pos aangestuur word asook die kursusuitleg en koste .
Indien jy belangstel stuur 'n e-pos aan die sekretaris Annalie van Dolderen annalie@margotswiss.co.za stuur. Die registrasie is oop en beplanning is om op Dinsdagaand 6 April met die kursus te begin.
Oor onlangse kritiek dat lede verplig was om duikpakke (wetsuits) te koop het Botha gesê dit is nie korrek nie. Die duikpakke soos aan gedui was nie verpligtend nie, maar 'n aanbeveling vir almal wat belangstel soos gespesifiseer in die Covid-19-veiligheidsmaatreëls. Verder was dit ook vir persone wat belangstel in die rubberbootopleiding.
Swanepoel het gesê die klub het al byna 100 lede, maar daar sal beslis nuwe lede opgelei moet word. As gevolg van Covid-19 kon nuwe lewensredders nie verlede jaar opgelei word nie "Dit gaan daaroor om lewens te red," het sy gesê. Hetsy dit in die see, 'n rivier, 'n dam of in 'n swembad is.
Dit is 'n nie-winsgewende organisasie en die ledegeld word teruggeploeg tot voordeel van lewensredding. Lewensredders word betaal deur die instansie wat hulle gebruik soos byvoorbeeld 'n plaaslike owerheid.
Die klub stel opgeleide lewensredders beskikbaar aan byvoorbeeld die George-munisipaliteit wat omsien na strande by onder meer Wilderness, Victoriabaai en Gwaiingriviermond en die Conville-swembad.
Vir meer besonderhede kontak Freya Swanepoel by 072 3009 141.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'