GEORGE NUUS - Vroue verloor dikwels hulself ná moederskap. Hulle moet egter leer om hulself ook te prioritiseer. Só het die voorkomskonsultant, Alette Winckler, gesê tydens 'n praatjie oor vrouwees hier op George.
Sy is die eggenoot van die bekende sanger en destydse Idol, Heinz Winckler, en is tans swanger met hul vierde kleinding.
Winckler is as gasspreker genooi om sowat 50 vroue by Eden MediSpa in Heatherlands verlede Donderdag toe te spreek.
Met haar tema, Vrou(f)ees, het Winckler die groep dames laat skater van die lag met staaltjies uit haar eie lewe, as ma van drie seuns.
Sy het vroue verseker dat geen persoon se lewe perfek is nie. Sy het egter beklemtoon dat dit vir vroue belangrik is om nie hulself in hul rol te verloor nie. "Iewers na 10 tot 15 jaar van getroude lewe kyk 'n paartjie na mekaar en dink: 'Waar is die persoon met wie ek getrou het?'," het Winckler gesê. "Die visuele indruk is ongelooflik belangrik. Jy bepaal jou voorkoms. Maar my hart gaan eintlik uit na die hart van 'n vrou. 'n Gesonde mamma is 'n great mamma. Ons het almal goed om deur te werk en mense om te vergewe. Moenie 'n muur tussen jou en jou kind bou nie."
Winckler, met 'n graad in joernalistiek, het reeds 'n paar selfhelpboeke vir vroue agter haar naam en werk tans aan 'n boek met dagstukkies. Sy skryf ook kinderboeke.
In gesprek met die George Herald het Winckler gesê haar loopbaan as voorkomskonsultant het heel toevallig begin toe sy en haar man sowat tien jaar gelede in Amerika gebly het. "Heinz het opgetree in 'n Broadway musical en ek het lang ure tuis deurgebring en vreeslik baie make-over shows op TV gekyk. Heinz sê toe vir my hy dink 'n voorkomskonsultant is die perfekte beroep vir my," het Winckler gesê. Sy was eers nie heeltemal oortuig nie, maar soos die geleenthede hulself voorgedoen het, het Winckler die kans gehad om in te staan as stilis. Vandaar het haar loopbaan op dreef gekom.
Sy geniet wat sy doen terdeë omdat mense so verskillend is, en elke projek anders is, het Winckler gesê. Op 'n vraag oor die noodsaaklikheid van haar beroep, het Winckler gesê mense koop aanmekaar die verkeerde goed en spandeer duisende rande op goed wat hulle nie pas nie. Haar kliënte is meesal vroue, maar sy help ook mans. "Mans is baie maklike kliënte," het sy laggend gesê.
Van links is Petro van Huyssteen (eienaar van Shampu), Dr. Ansua Steyn (Eden MediSpa), Alette Winckler (gasspreker), Chiréze Hoogendyk (Mamablue) en Dr. Adri Hofmeister van Eden MediSpa, wat die aand afgeskop het met 'n kort aanbieding oor produkte. Foto's: Michelle Pienaar
Eden MediSpa en die haarsalon, Shampu, is beide passievol om hul kliënte op hul beste te laat lyk en voel. Eden MediSpa spesialiseer in toonaangewende, estetiese velsorgbehandelings en maak gebruik van die nuutste tegnologie in die velsorgbedryf.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'