GEORGE NUUS - Die Wesso's van George se kuier op die Maak My Famous-verhoog het die afgelope Saterdag tot 'n einde gekom nadat hulle uitgestem is. Dit is amper 'n maand na Gideon Lottering, ook van George, die kompetisie moes groet.
Emanuel, Lee-Roy en Shu-Shane Wesso sê die kompetisie het hulle wonderlike blootstelling gegee.
"Waar ons voorheen net plaaslik bekend was, is ons nou landwyd bekend." Die groep sê hulle het ook geleer dat alhoewel dit show business is, daar ook 'n sakekant is wat jy moet ken. Hulle sal nou huis toe kom en kyk na wat hulle alles geleer het oor musiek en hoe om hulle loopbaan in musiek te verleng.
Emmanuel sê een van die dinge wat hulle geleer het was dat jy nooit jou eindpunt sal bereik nie, omdat daar altyd meer werk en plek vir leer en groter dinge is.
"Ons het geleer om onder druk te werk en om enige liedjie buitekant ons gemaksone ons eie te maak. Ek dink wat ons geleer het, het ons insig gegee oor wie ons wil wees as sangers."
Die groep sê alhoewel hulle uit die kompetisie is, kan hulle nou voortaan op enige plek gaan sing. "Noudat ons bekend is, en meer mense van ons weet, kan ons ons loopbaan uitbou." Hulle is besig om al hul liedjies reg te kry vir opname.
"Sodra ons finansieel sterk genoeg is, kan ons opneem en 'n video maak."
Gideon Lottering
Lottering, oftewel G Notez, het gesê dit is die begin van baie groot dinge vir hom. "Dit was 'n droom wat vir so 'n lang tydperk al aangekom het en ek is dankbaar vir God wat dit vir my moontlik gemaak het.
"Van hier kan julle oorspronklike musiek van my verwag, waar ek my life story deur sang en musiek sal vertel," sê hy.
Die 34-jarige sanger het ook gesê een van die belangrikste lesse wat hy geleer het, is om altyd 150% gereed te wees. "Sodra jy op daai verhoog stap is elke sekonde waardevol. Jy moet altyd jou beste gee en hard werk sodat jy 'n beter weergawe van jouself kan wees as wat jy die vorige dag was. Dit was rêrig vir my 'n once in a lifetime experience om saam met Emo te werk.
"Hy is 100% real en hy druk jou tot op jou uiterste. Pedro was ook rêrig iets anders, dit was my eerste keer dat ek met iemand kon werk wat al so lank in die Afrikaanse musiekbedryf is. Hy het seker gemaak dat ons connect met die songs en die storie vertel."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'