Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Elke oggend van 07:00 tot 09:00 wag hoopvolle werkers in Industriëlestraat in George Industria, van net na die treinspoor tot verby Coca-Cola, om opgetel te word vir 'n dag se handearbeid.
Die mans se oë is gerig op elke voertuig wat daar verbygaan.
Tydens die George Herald se besoek moes die verslaggewer mooi verduidelik sy is nie op soek na 'n werker nie.
In gesprek met die mans het dit aan die lig gekom dat hulle so een of twee keer 'n week gelukkig is en 'n werkie los slaan.
Verder is dit maar harde bene kou.
"Maar dis beter as om by die huis te sit," het Caleb Bantom gesê.
‘n Sakeman in die area wat graag anoniem wil bly, is baie ongelukkig oor die feit dat die werkers reg voor ondernemings staan en wag vir werk.
Hy sê die probleem word veroorsaak deur inwoners wat die werkers daar optel.
"George se mense behoort van beter te weet," het hy gesê.
Volgens hom sak die werkers toe op enigeen wat voor die besigheid parkeer.
"Een van my kliënte, 'n vrou, was histeries omdat van die ouens in haar motor geklim het toe sy voor die winkel stop. Hulle het gedink dit is ‘n werksgeleentheid."
Hy is bekommerd oor die veiligheid van sy personeel en kliënte, asook die werkers.
Kyk 'n video hier:
Volgens hom is twee van die werkers al per ongeluk raakgery, deur kliënte wat voor die besigheid stop.
Hy voer aan dat sy oproepe aan George-munisipaliteit, wetstoepassing en George-verkeer nog geen resultate opgelewer het nie, en oorweeg dit om die besigheid te skuif as gevolg van die situasie.
Hoopvolle werksoekers in Industriëlestraat, verlede Vrydagoggend. Van links is Caleb Bantom, Thembinkosi Tomose, Samkelo Madlekazi, Mvuyiseni Joyi en Phindile Ziselo.
Op 'n vraag hoekom die werkers nie by die munisipale werkersoptelpunt net verder af in dieselfde straat wag nie, het Bantom gesê nie almal het identiteitsdokumente nie want dit is te duur.
ID's is glo 'n vereiste om by die munisipale optelpunt te registreer.
"Daar is ook te veel mense wat daar wag," het hy gesê.
"Ons kanse is beter om hier te staan. Dit is waar die mense weet hulle kan ons kom kry."
Owerheid bewus van probleme
George munisipale bestuurder, Trevor Botha, het bevestig dat die munisipaliteit bewus is van probleme wat kan ontstaan rondom plekke waar werkers opgetel word.
"Ons is egter beperk in terme van hoe dit opgelos kan word," het hy gesê.
"Die munisipaliteit het juis die werkersoptelpunt (voorheen bekend as 'Men on the Side of the Road') laer af in dieselfde straat (oorkant Tekkie Town) begin, sodat werknemers en werkgewers ‘n veilige plek het waar hulle mekaar kan vind sodat goeie werkers by goeie mense werk kan kry.
"Daar is egter reëls by die optelpunt, soos byvoorbeeld dat voornemende werkers nie dronk mag wees as hulle daar opdaag nie, wat sekere werkers dan uitskakel."
"Die sukses van die werkersoptelpunt is grotendeels afhanklik van werkgewers wat die moeite moet doen om laer af in die straat te ry, wanneer ‘n groot hoeveelheid beskikbare werkers reeds aan die bokant van die straat wag.
"Werkers gaan dan nie noodwendig tot onder stap as hulle dink daar ‘n beter kans is om werk aan die bokant van die straat te vind nie."
Botha het gesê alhoewel dit verkies word dat werkers ‘n identiteitsdokument het, kan ander bewys van identifikasie ook gebruik word om by die optelpunt te registreer.
"Dit is nie onwettig vir mense om op straat te wag tensy hulle in onwettige aktiwiteite betrokke is nie.
Wanneer 'n motor stop om 'n werker op te tel, hardloop almal nader. Al word net een persoon vir die dag in diens geneem, maak die res seker hulle is daar ... vir ingeval.
"Munisipale wetstoepassers kan vir leeglopers vra om die gebied te verlaat, hulle van die optelsentrum vertel en aanmoedig om van die sentrum gebruik te maak, maar kan hulle nie arresteer of verwyder nie."
Botha het bevestig dat die sakeman se klagte ontvang en die gebied besoek is.
"Geen ander klagtes is onlangs hieroor in hierdie gebied ontvang nie, maar die munisipaliteit is bewus van die oorhoofse probleem, wat ons so ver moontlik deur die optelsentrum probeer oplos.
"Ongelukkig moet alle partye gewillig wees om so ‘n projek ten volle te laat werk.
"Die projek is oor die algemeen baie suksesvol en honderde werkers kry maandeliks op hierdie manier gereelde werk en sommige het uiteindelik ook so permanente werk gekry."
ARTIKEL, VIDEO & FOTO: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'