GEORGE NUUS - Die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal was Vrydag 24 Julie propvol werksoekers wat hul kans aan-gegryp het om deel te word van die Wes-Kaapse regering se Werksoekersreisbewysprogram.
Met hoop op beter werks-geleenthede het honderde inwoners geregistreer om gratis Go George-busritte te ontvang waarmee hulle onderhoude kan bywoon, CV's kan afgee en na werk kan soek.
Die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, Isaac Sileku, het die byeenkoms bygewoon. "Alles wat ons doen is daarop gemik om mense se lewens te verbeter," het hy gesê. "Deur vervoerkoste as struikelblok uit die weg te ruim, gee ons mense 'n billike kans om werk te kry en hul omstandighede te verbeter."
George-burgemeester, Browen Johnson, het werksoekers aangemoedig om die geleentheid verstandig te benut.
"Die Werksoekersreisbewys-program belowe niemand 'n werk nie," het hy gesê. "Moenie die buskaartjie gebruik om strate toe te gaan nie - gebruik dit vir 'n werksonderhoud." Hy het gesê die program wil mense help om hulle oor minstens een ding minder te bekommer.
Volgens die Wes-Kaapse departement van mobiliteit het 341 inwoners tydens die ope dag geregistreer, terwyl 191 Go George Gold Cards uitgereik is.
Sedert die program op 25 en 26 Junie in George van stapel gestuur is, het 2 348 werk-soekers geregistreer, 1 304 Gold Cards is uitgereik en sowat 1 300 gratis busritte is gebruik.
Inwoners kan steeds aanlyn aansoek doen vir die program by gettingyoutowork.westerncape.gov.za. Sodra hul aansoeke goedgekeur is, kan hul Go George Gold Card met gratis busritte by 'n aangewese punt afgehaal word.
Gradelene Williams (links) van die departement van mobiliteit, saam met Bryonie Claassen en Alisha Fourie. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’