TUINROETE DISTRIKNUUS - Die polisie het hulle dank uitgespreek teenoor die gemeenskap van Wolwedans op Groot-Brakrivier wat inligting verskaf het sodat die polisie op die spoor van twee verdagtes wat verlede week by 'n gewapende rooftog betrokke was, kon kom. Dit volg kort nadat die insittende van 'n afleweringsvoertuig wat brood vervoer het, op Donderdag 27 Augustus voor die Greenhaven Superette in sy maag geskiet is.
Die man is volgens Groot Brak-polisie se kommunikasiebeampte, sers Laurianne Botha, in 'n stabiele toestand in 'n hospitaal in Mosselbaai.
Vier mans het die afleweringsvoertuig vroegoggend genader en nadat 'n skoot afgevuur is, met onder meer 'n selfoon en 'n onbekende kontantbedrag gevlug.
'n Grootskaalse soektog is van stapel gestuur. Die polisie het ook inligting van die gemeenskap ontvang oor 'n voertuig wat by 'n parkeerarea op Groot-Brakrivier geparkeer was en wat glo as die wegkomvoertuig gebruik sou word. 'n Verdagte man is toe in hegtenis geneem. Dieselfde aand is 'n 37-jarige man in Wolwedans op Groot-Brakrivier in hegtenis geneem.
Die insittende van hierdie afleweringsvoertuig is in sy maag gewond nadat vier gewapende rowers op die voertuig toegesak het.
Die verdagte was ook vermoedelik by die gewapende roof betrokke. Volgens Botha is hy 'n inwoner van die gebied. Die polisie het hom vasgetrek nadat lede van die gemeenskap inligting aan hulle verskaf het.
Intussen is twee verdagtes wat met die voorval verbind kan word, steeds op vrye voet. "Ons is besig om gesigsamestellings bymekaar te sit met die hoop dat die publiek dalk sal weet waar die verdagtes hulself bevind," het Botha gesê.
Die polisie het op 'n selfoon en 'n leë houer waarin kontant vermoedelik gebêre is, tussen riete naby die misdaadtoneel afgekom. Dit is vir ontleding gestuur.
Die twee verdagtes bly in aanhouding en staar aanklagte van poging tot moord en gewapende roof in die gesig.
Die gemeenskap van Wolwedans kyk toe terwyl die polisie na gewapende rowers in 'n beboste gebied soek.
Polisie op die toneel waar die soektog geloods is.
Polisie op die toneel waar die soektog geloods is. Foto's: Louise Karsten
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'