Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Pacaltsdorp Tradisionele Kulturele Khoisanraad beplan op Nasionale Erfenisdag, komende Maandag 24 September, 'n daglange massa-optog in Pacaltsdorp, waarna 'n byeenkoms by die erfenisgrond in Missionstraat volg met verskeie sprekers en dans- en sanggroepe wat optree.
Sanley Laminie, die senior leier van die raad, sê dit is nie 'n geleentheid net vir die Khoisanmense nie, maar alle belangstellendes is welkom. "Ons nooi ook ons wit broers. Ons wil kom op 'n plek waar ons met mekaar wil praat oor versoening. Ons doel is om ons volk te verenig sodat ons uiteindelik soos God dit wil hê nader aan mekaar sal lewe."
Die optog sal om 08:00 in Rosedale (Edenpark) begin van waar almal deur Delvillepark na Syferfontein gaan stap. Daar sal bietjie uitgespan word voordat almal terug deur Dellvillepark stap en dan in Beachweg deur Europe, Harmonypark, Sea View en New Dawn Park vir nog 'n uitspankans.
Van daar gaan almal met Missionstraat stap na die erfenisgronde waar hulle om ongeveer 17:00 sal arriveer. Mense kan hul eie piekniekmandjies bring vir die dag se stap, maar daar sal iets te ete wees by die erfenisgronde (amfiteater).
Plaaslike leiers en afgevaardigdes van die koninklike huis in Kaapstad afgeneem tydens die hysing van die vlag van die Sovereign State of Good Hope by die perseel van Eagle's Nest Ministries.
Eerste vlaghysing in Pacaltsdorp
Die Khoisanraad het op Saterdag 15 September 'n geskiedkundige geleentheid aangebied waar die vlag van die Sovereign Stage of Good Hope vir die eerste keer in Pacaltsdorp gehys is. Dit het by die perseel van Eagle's Nest Ministries gewapper. Dit sal elke paar dae gehys word.
Verteenwoordigers van die koninklike huis van Goab (Koning) Khoebaha Calvin Cornelius III van Kaapstad het die geleentheid bygewoon. Cornelius is die hoof van die Koninklike Huis van die Khoisan-nasie. Afgevaardigdes van die koninklike huis sal ook by komende Maandag se optog wees.
Volgens Laminie is die Pacaltsdorp Khoisanraad se doel om versoening en gesprekke oor grondhervorming plaaslik te dryf. Hulle wil ook amptelike gesprekke met boere begin.
Kyk 'n video hieronder.
"Ons moet wegkyk van die propaganda van die politieke geskiedenis na God se droom dat almal gelyk sal wees. Dit is nie sy doel dat ons verdeeld moet wees nie. Ons is heeltemal a-polities. As 'n politikus enige van ons byeenkomste bywoon, moet hy of sy hulle Suid-Afrikaanse keps opsit en enige politieke agendas by die huis laat."
Mense wat belangstel om met die raad kontak te maak, kan vir Annelize Jeftha bel by 062 096 2344.
Van die plaaslike leiers byeen in Pacaltsdorp voor, van links: John van Schalkwyk, Theron Baartman, Eben Basson (Oudtshoorn), Solly Rhode en Jacob Lotriet. Agter: Stanley Laminie, hoofleier van die Pacaltsdorp Khoisanraad, en Annelize Jeftha, die mediaskakelbeampte.
Van die plaaslike leiers byeen in Pacaltsdorp voor, van links: John van Schalkwyk, Theron Baartman, Eben Basson (Oudtshoorn), Solly Rhode en Jacob Lotriet. Agter: Stanley Laminie, hoofleier van die Pacaltsdorp khoisanraad, en Annelize Jeftha, die mediaskakelbeampte.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'