GEORGE NUUS - 'n Deurloop of padreserve in Le Vallia, wat in die gemeenskap as "die gang" bekendstaan, gee inwoners kopseer met 'n toename van ongewenste aktiwiteite wat tans daar plaasvind. Die gang strek vanaf Chris Aprilstraat na Missionstraat.
Volgens 'n inwoner wat reg voor die gang woon, het oom Vivian van Aswegen die deurloop sowat 40 jaar gelede verklein, sodat daar nie voertuie kan deurry nie. "Hy het ook die area versorg," het Alec Goliath gesê.
"Na 'n hofbevel het die Van Aswegens hulle heining geskuif en die munisipaliteit neem nou verantwoordelikheid vir die gang se onderhoud. Die gang lyk deesdae baie sleg en is erg verwaarloos. Skollies het die area oorgeneem en bedreig inwoners se veiligheid."
Die inwoners het glo ook 'n petisie geteken waarin hulle vra dat die saak aandag geniet. "Die gang lyk soos die kat se agterend deur swak bestuur van raadslede," het Goliath gesê.
Die gang strek vanaf Chris Aprilstraat na Missionstraat.
Planne in plek
Volgens die direkteur van beplanning en ontwikkeling, Lauren Waring, het die raad besluit dat dié wandelpad tussen Mission- en Chris Aprilstraat nie gesluit word nie, maar opgegradeer word om in die gemeenskap se behoefte aan 'n veilige en toeganklike woonbuurt te voorsien.
Waring lys die volgende planne waarmee die munisipaliteit beoog om die area in tip top kondisie te hou:
"Die paadjie sal met straatmeubels en dromme toegerus word op 'n manier wat misdaad, vandalisme en die ronddwaal van mense, asook onwettige vullisstorting sal ontmoedig. Die gras sal gereeld gesny word om die paadjie netjies te hou. Die proses om asblikke te voorsien is tans in werking.
"Ons elektrotegniese direktoraat sal in die volgende maand 'n bykomende spreilig naby die loopbrug plaas vir ekstra sekuriteit en die area sal aan die munisipale kringtelevisiekameras gekoppel en gemonitor word.
"Ons direktoraat siviele ingenieurswese het 'geen parkering-borde' in die gebied aangebring en rooi lyne geverf om motoriste te ontmoedig om op onwettige plekke te parkeer.
"Wetstoepassing en verkeersdienste sal sigbare polisiëring en verkeersbestuur gedurende spesifieke tye van die dag by die probleemplekke uitvoer."
Hoe die gang nou daarna uitsien.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'