GEORGE NUUS - 'n Warm middagete twee keer per week maak 'n groot verskil as 'n mens probeer oorleef op 'n karige pensioen. Meals on Wheels kom tot menigte se redding wanneer hulle 'n maaltyd by kliënte aflewer.
Dinsdae en Donderdae wag Tommy Barnardo (65) van George vir sý aflewering en is hy tog te bly vir dié plesiertjie wat sy lewe ligter maak.
Tommy is gebore met spina bifida, wat veroorsaak dat hy nooit 'n sogenaamde normale lewe kon lei en 'n vaste inkomste kon verdien nie. Hy loseer aan die agterkant van 'n spoorweghuis, en maak skrootmetaal vir 'n ekstra inkomste bymekaar. Dit is egter nie 'n inkomste waarop hy kan staatmaak nie.
"Ek was een van twee. My tweelingbroer het drie ure na geboorte gesterf," het Tommy tydens 'n besoek verlede Donderdag vertel.
Ten spyte van sy situasie en fisieke struikelblokke is hy vreeslik positief oor die lewe en diep dankbaar vir dit wat hy wel kan geniet. Tydens George Herald se besoek het ons lekker gesels oor grootword, en hoe tienerjare hom beïnvloed het.
Tommy Barnardo (65) met sy middagete á lá Meals on Wheels. Foto: Michelle Pienaar
Tommy het sy ma amper 'n hartaanval besorg toe hy en 'n vriend as jongmanne besluit het om na Johannesburg te ryloop. Tommy met 'n rystoel en sy vriend langs sy sy.
"Ons was nie lus vir busry nie. Dit het ons vier rygeleenthede geneem, toe is ons binne in Johannesburg," het hy gelag. "Dit was 'n fantastiese avontuur."
Wanneer dit kom by die detail van sy daaglikse bestaan, verduidelik Tommy met soveel kleur hoe dit hom bykans 90 minute neem om soggens aan te trek, en 'n braaitang inspan om by te kom waar hy nie maklik kan nie. Sy lewensuitkyk en sin vir humor is iets om te bewonder.
Enigeen kan bydraes maak om Meals on Wheels met hul gemeenskapswerk te ondersteun. Met Paastyd wat nader kom kan 'n klein gebaar iets groots vir iemand in jou dorp beteken. Vir inligting, kontak Cora Fourie by 083 485 2390.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’