GEORGE NUUS - 'n Inwoner van Rosedale, wat brand om sy eie besigheid te begin, moes alles op ys sit weens 'n hardnekkige, onwettige vullishoop wat reg voor sy kombuisdeur groei.
Volgens Isaac Innes van Lamechstraat in Rosedale het hy reeds 'n permit ontvang om wegneemetes vanuit sy perseel te verkoop.
"Die probleem is, ek sit met hierdie vullishoop reg voor my huis. Dit is nie higiënies nie, en die mense wil eenvoudig nie die regte ding doen nie," het hy vandeesweek gesê. Die munisipaliteit kom maak gereeld daar skoon, maar volgens Innes is die vullistrok skaars om die hoek, dan bring inwoners weer hul vullis tot daar.
Innes se hoop is gerig op munisipale wetstoepassing wat hy reken die sondebokke moet vasvat. Munisipale woordvoerder Chantel Edwards, het by navraag gesê die munisipaliteit neem kennis van die klagte en bevestiging dat die area gereeld skoongemaak word.
"Dit bly 'n geweldige vermorsing van hulpbronne om gebiede voortdurend en herhaaldelik skoon te maak en die publiek moet daarop let dat ons slegs individue ingevolge die toepaslike verordeninge kan vervolg indien die voorvalle met die vereiste besonderhede aangemeld word," het Edwards gesê.
Só kan jy die munisipaliteit help om onwettige storting te stop:
Versprei asseblief die nuus in jou gemeenskap dat die storting van afval gevaarlik en 'n gesondheidsgevaar is. Afval moet in vullissakke opgetel word en op afvalverwyderingsdae vir versameling geplaas word. Bourommel en afval wat nie geskik is vir sakke nie, moet by die munisipale vullisterrein op die R102 (lughawepad) gegooi word.
Indien jy name, voertuigregistrasiebe-sonderhede of adresse van beweerde oortreders kan verskaf en bereid is om 'n verklaring in hierdie verband te maak, rapporteer dit asseblief by wetstoepassing by 044 801 6350 of sprins@george.gov.za. Jy het nie 'n foto van die oortreder nodig nie, maar dit sal die saak versterk vir 'n waarskuwing of boete wat uitgereik moet word.
Indien jy gestorte afval opmerk, meld dit asseblief aan by 044 802 2900.
Die vullishoop is 'n steen des aanstoots vir 'n inwoner wat graag iets meer vir sy gemeenskap wil bied.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'